Deur: Ds. René Herselman
Augustus is ’n besondere maand waarin ons weer daaraan herinner word dat ons geloof nie net binne die mure van die kerk geleef word nie. Barmhartigheid kry eers werklik betekenis wanneer dit hande en voete kry – wanneer ons bereid is om uit te reik, te luister, saam te stap en iets van God se liefde met ander te deel.
Een van die plekke waar Stellenberg-gemeente hierdie roeping uitleef, is in Klipheuwel. Ons betrokkenheid daar is nie bloot ’n eenmalige projek nie, maar deel van ’n jarelange verbintenis met mense en gesinne in die gemeenskap.
Tydens Barmhartigheidsmaand het ons die Young Davids– en Young Esthers-groepe in Klipheuwel besoek. Die jongmense word onder moeilike omstandighede groot en geniet nie noodwendig volgehoue ondersteuning vanuit hul families nie. Vroue in Klipheuwel gaan ook dikwels gebuk onder moeilike maatskaplike omstandighede. Daarom het ons ruimte gemaak om saam te kuier, te luister, te bemoedig en te bid.

Soms is dit juis die eenvoudige dinge wat die grootste verskil maak: ’n mens wat tyd maak, iemand wat luister, ’n warm bord kos, ’n hand wat uitreik en die wete: “Ek is nie alleen nie.”
Ons uitreike gaan oor veel meer as die gee van kos, klere of ander benodigdhede – dit gaan daaroor om die boublokke van waardigheid, verhoudings en hoop neer te lê. Wanneer ons Klipheuwel besoek, probeer ons nie om “die antwoord” op mense se uitdagings te wees nie. Ons wil eerder hoor wat hulle beleef, hulle stories leer ken en vra: “Here, hoe kan ons hier u liefde sigbaar maak?”
Die Young Davids ontmoet Vrydae vir Bybelstudie, gesprek, ondersteuning en omgee. Tydens ons besoek het ons stilgestaan by Jesus se woorde in Matteus 5:13: “Julle is die sout vir die aarde.” Ons het gesels oor wat dit beteken om sout in hierdie wêreld te wees – om ’n verskil te maak, soms op maniere wat ons nie dadelik raaksien nie.
By die vrouegroep het ons stilgestaan by Jesus se woorde in Johannes 10:11: “Ek is die goeie herder.” Jesus as die Goeie Herder herinner ons daaraan dat Hy ons ken, ons raaksien en saam met ons deur elke seisoen van die lewe stap.


As afsluiting van die gemeente se maand van barmhartigheid het ons ’n besondere omgeekamp vir vroue op die Apostelbattery-kampterrein aangebied. Dit was ’n naweek van stilword, luister, deel, bid en saamstap – ’n geleentheid om uitdagings nie net met mekaar te deel nie, maar dit ook voor die Here neer te lê.
Ons het saam deur die verhaal van Hanna uit 1 Samuel 1 gewandel – ’n vrou wat met haar seerkry, verlange en onvervulde gebede na God gegaan het. Hanna herinner ons daaraan dat ons nie eers heel hoef te wees voordat ons na God toe kom nie. Ons mag na Hom toe kom net soos ons is – met ons vrae, trane, teleurstellings en hoop.

’n Wandeling deur die donker ondergrondse tonnel op die kampterrein het ons gelei om ons vrese op ’n tasbare manier te konfronteer. ’n Stywe klim teen ’n koppie, na die bekende kruis het ons herinner dat die geloofsreis soms inspanning vra. Daar is steiltes, moegheid en oomblikke wanneer ’n mens wil omdraai. Die kruis herinner ons daaraan dat Jesus nie ver van ons pyn af staan nie. Hy ken ons lyding, dra ons deur ons donkerte en ontmoet ons juis daar waar ons Hom die nodigste het.