
Izak is ’n boorling van die Wes-Kaap en het in 1987 aan die Hoërskool President gematrikuleer. Daarna is hy twee jaar weermag toe, waarna hy ’n paar jaar aan sy studies gewy het. In 1990 het hy by Sanlam Multi Data- groep Sanlam begin werk. Danksy ’n werksgeleentheid het hy ongeveer tien jaar in Durban gewoon. “Dit was vir my ’n ongelooflike tyd,” sê Izak. “Ek het die Drakensberge geklim, geskubaduik by Aliwal Shoal en ook in Sodwanabaai.”
Die afgelope 21 jaar is Izak weer terug in die Kaap en werk vir Inspired Testing. Sy fokus is diensbestuur, die bou van verhoudings en kliëntediens. “Ek is passievol daaroor om goeie verhoudings te bou, goeie diens te lewer en waarde toe te voeg wanneer ek kan sien dat dit ’n positiewe verskil in iemand se lewe maak,” sê Izak.
Izak vertel dat hy en Ineke vier seuns het. Dit is albei se tweede huwelik en hulle het elkeen twee seuns uit hulle vorige huwelike. Dan is die gesinshond, ’n labrador met die naam Rundu, boonop ook ’n reuntjie. “Deesdae is ons gesin groter, want daar is gereeld ook ’n meisie wat deel raak van die prentjie.”
Izak is baie lief vir die buitelewe en durf bykans enige soort sport aan. “Ek hou ook daarvan om in die garage rond te krap en huisprojekte aan te pak. Die projekte kom nie altyd klaar nie, weens ander verpligtinge soos braai,” skerts Izak.
“Ek geniet eenvoudige dinge soos om tyd saam met Ineke en ons seuns deur te bring en om saam met goeie vriende om ’n vuur te sit. My en Ineke se idee van ’n perfekte vakansie is iets eenvoudigs in die natuur. Ons is baie lief vir die Karoo, enige bestemming aan die kus, en ons jaarlikse kampering by Santos-kampeerterrein in Mosselbaai is vir ons ’n stukkie genade.
“Ek beskou die perfekte vakansiedag as ’n dag waarop ek sonder werkverpligtinge wakker word, kan gaan draf of fietsry, saam met Ineke en my gesin gaan stap, strand toe gaan om te swem of met die kajak uit te gaan, ’n alikruik of vyf uit te duik en dan die dag rondom ’n vuur, met die see voor jou, saam met familie en vriende af te sluit.
“Ek probeer my lewe eenvoudig inrig – die fokusareas in my lewe is my verhouding met die Here, met Ineke en my seuns, en dan om my Christenskap prakties uit te leef. Ek weet ek skiet op baie terreine tekort, maar ek poog om ander mense met liefde te behandel. Ek is daagliks net meer bewus daarvan dat ons so afhanklik is van die Here se genade en dat swaarkry groei beteken en nie noodwendig straf nie – ook dit word vanuit sy liefde ontvang.
“Ek is reeds etlike jare by Stellenberg-gemeente betrokke en dit bly vir my besonders om deel te wees van ’n geloofsgemeenskap. Die mense en die gevoel van aanvaarding en saamwees is besonders. Almal ken my seker as die ou agter die braaivleisvuur besig om die Burgers se burgers te braai.
“Ek geniet die diversiteit van die gemeente – die verskillende ouderdomsgroepe, persoonlikhede en sienings – maar met ’n gemeenskaplike geloof wat ons saambind. Om Christus se liefde prakties uit te leef, is vir my die kern daarvan. Niemand van ons is sonder ’n verlede of bagasie nie, maar daar is ruimte vir almal om deel te wees van die geloofsgemeenskap en saam sy genade en liefde te beleef. Daarmee saam het ons die geleentheid om saam te leer, uit sy Woord of by mekaar, want die lewe gooi draaiballe na ons almal en ons hoef dit nie altyd alleen te hanteer nie.”