
Deur: Dr. Marius Breytenbach
Die Reformasie, of Kerkhervorming, was ’n godsdienstige beweging wat gedurende die 16de eeu in Europa ontstaan het en die Westerse Christelike kerk ingrypend verander het. Op 31 Oktober 1517 het die Duitse monnik en teoloog, Martin Luther, volgens oorlewering sy beroemde 95 stellings teen die deur van die kerk in Wittenberg aangebring. Daarmee het hy die kerklike praktyke van sy tyd openlik bevraagteken. Sy grootste beswaar was dat die kerk God se genade verduister deur mense se verlossing alleenlik aan kerklike gesag; godsdienstige handelinge; en menslike verdienste te verbind. Luther en ander hervormers het opnuut self die bevrydende waarheid ontdek wat Paulus reeds eeue tevore verkondig het: “Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Romeine 3:23–24). Ons word in alle omstandighede voortdurend deur God se genade hervorm.
Ons eie kerkverband het sy wortels in hierdie Protestantse tradisie. Daarom gaan ons gedurende die volgende paar weke stilstaan by enkele belangrike insigte in die Reformasie en die betekenis daarvan vir ons geloofslewe vandag. Dit bring ons by die belangrike vraag vir komende Sondag: Vier ons die Reformasie bloot omdat die kerk meer as 500 jaar gelede verander het, of omdat ons steeds glo dat God voortdurend besig is om sy kerk, en ons daarbinne, te vernuwe?
Uit die Reformatoriese tradisie kom die bekende uitdrukking: Ecclesia reformata, semper reformanda – die kerk wat hervorm is, moet voortdurend hervorm word. Dit herinner ons daaraan dat die kerk, sowel ons as gelowiges, nooit by ’n bepaalde vorm, tradisie of begrip van die geloof kan vassteek nie. Ons leef immers in die voortdurende vernuwende teenwoordigheid van God se genade.
Om voortdurend te vernuwe is ook ons gemeente se vierde waarde, waarby ons in die laaste kwartaal gaan stilstaan. Die wêreld waarin ons leef, stel ons voortdurend voor nuwe omstandighede wat aanpassings van ons verg. Maar om aan te pas en om vernuwe te word, is nie dieselfde nie. Aanpassing is ons reaksie op die veranderde omstandighede rondom ons. Vernuwing, egter, ontspring in ons wese, daar waar die Heilige Gees ons harte en denke aanraak en ons help om God se bedoeling en teenwoordigheid in ons binneste, van eksterne veranderinge te onderskei.
En dit is die vertrekpunt van ons komende preekreeks: In die hand van die Pottebakker – om voortdurend te vernuwe. Deur hierdie reeks wil ons opnuut ontdek hoe God juis binne die werklikheid van ons alledaagse lewe besig is om ons te vorm en te vernuwe. Hierdie vernuwing begin nie noodwendig wanneer ons omstandighede verander of wanneer dinge nie verloop soos ons gehoop het nie. Dit begin juis wanneer ons, te midde van onvervulde verwagtinge en onsekerheid, opnuut God se genade ontvang. Dit is sy genade wat ons harte en gedagtes oopmaak om met nuwe oë na ons omstandighede te kyk en daarna te streef om voortaan anders in die hede te leef. Soos klei in die hand van die pottebakker, bly ons voortdurend in God se vormende hande. Hy is nooit klaar met ons nie.
Mag hierdie preekreeks ons help om met groter verwondering en geloof te ontdek hoe God steeds besig is om ons as individue én as gemeente te vernuwe.
Ons komende preekreeks:
In die hand van die Pottebakker – om voortdurend te vernuwe
Want om voortdurend te vernuwe, beteken nie dat ons voortdurend iets of iemand “anders” moet word nie, maar dat ons God sal toelaat om ons al hoe meer te vorm na sy bedoeling met ons lewe.