Dagstuk | Dinsdag 27 Oktober 2026

Dagstuk | Maandag 26 Oktober 2026
Dagstuk | Woensdag 28 Oktober 2026

Tema: Wat dink ek? – Bewus van my gedagtes

Bybelteks: Filippense 4:8

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

Boodskap

Ons kan maklik vasval in negatiewe denke, bekommernis en dit wat verkeerd gaan. Paulus nooi ons uit om doelbewus ons gedagtes te rig op dit wat goed, waar en mooi is.

Dallas Willard sê so mooi: “It is the safest place for a human being to be.” Dit verwys na die gedagte dat dit die veiligste plek vir ’n mens is wanneer jy jou gedagtes met Goddelike gedagtes vul. Dit beteken dat jy voortdurend bewus is van God. Hy is nie net Iemand aan wie jy op Sondae dink of wanneer jy ’n krisis beleef nie, maar Iemand van wie jy deurentyd bewus is in jou lewe. Jy sien, hoe meer jy jou gedagtes met God se gedagtes vul, hoe meer sal Hy jou lewe nuut maak, en hoe minder plek sal daar wees vir negatiewe gedagtes en gedagtes oor verkeerde dinge.

Waarop ek my gedagtes fokus, beïnvloed dit wat in my hart begin groei. Dit wat in ons gedagtes leef, word ’n werklikheid in ons lewe. Daarom is dit krities belangrik dat ons dit wat in ons gedagtes leef, baie ernstig opneem en let op dit wat ons in ons gedagtes vertroetel. Ons het nie beheer oor die wêreld buite onsself nie, maar wel oor dit wat in ons gedagtes leef. Daarom moedig Filippense ons ook aan om ons gedagtes te rig op dit wat goed en mooi is.

Is jou gedagtes gevul met negatiwiteit, kommer en vrees? Dan sal dit ook in jou lewe en gemoed weerspieël word. Fokus op jou seëninge en op die mooi in jou lewe, en jou gemoed sal ook verander.

“Our life always expresses the result of our dominant thoughts.”

— Søren Kierkegaard

Gebed

Here, ek vra dat U my denke nuut sal maak. Wanneer ek geneig is om op die negatiewe te fokus, help my om raak te sien wat mooi, goed en waar is. Leer my om met dankbaarheid te kyk en om my gedagtes op U en U goedheid te rig. Laat my denke al hoe meer soos U s’n word. Amen.