Bybelteks: Romeine 12:2
“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Die beroemde Franse filosoof, wiskundige en skrywer René Descartes het reeds in die 17de eeu die woorde gesê: “Cogito, ergo sum” – “Ek dink, daarom is ek.” Hoe ek en jy dink, bepaal eintlik hoe ons lewe en wat ons as die werklikheid beleef. Dit beteken dus dat ek en jy daagliks met hierdie tas vol gedagtes rondloop, en wat in ons tas is, bepaal hoe ons lewe.
Ons gedagtes bepaal dikwels hoe ons na onsself, ander mense en ons omstandighede kyk. Nie elke gedagte wat by ons opkom, is waar nie. Ons moet leer om ons denke aan God se waarheid te toets.
Dikwels is mense al jare lank Christene, maar sukkel steeds met kritiese en veroordelende gedagtes, negatiewe gedagtes, haatgedagtes en vreesgedagtes. Ons denke word nie sommer outomaties nuut gemaak wanneer ons wedergebore Christene word nie. Vir baie Christene is ons harte die plek waar die Heilige Gees werk, en so word ons gedagtes en denke heeltemal vergeet. Dit is amper asof daar ’n bordjie langs ons kop opgesit is: “Steeds onder eie persoonlike bestuur.” Die Here is in beheer van my hart, maar dit wat hier bo in my kop aangaan, is steeds onder my eie beheer. Ons denke moet ook deur die Gees van God vernuwe word. Daardie tas moet eers leeggemaak word, sodat God dit opnuut kan vul met denke wat deur die Heilige Gees gevorm word.
Gesonde kos voed die liggaam en is noodsaaklik om dit in stand te hou. Net so is gesonde gedagtes noodsaaklik om ons siel gesond te hou. Ons moet elke dag opnuut ons gedagtes en verstand in die Here se hande oorgee. Om die waarheid te sê, ons moet elke dag bid dat ons gedagtes soos klei in die Meester se hande sal wees, sodat Hy ons gedagtes en verstand kan vorm.
Ons hou die sleutel in ons hande om ’n lewe van algehele oorgawe te lei. Die sleutel is die gedagtes in ons kop. Want wanneer jou denke begin verander, sal jou hele lewe begin verander.
Here, help my om bewus te wees van die gedagtes wat in my hart en verstand leef. Help my om te onderskei tussen wat waar is en wat my bang, negatief of moedeloos maak. Leer my om elke gedagte na U toe te bring en my denke deur U waarheid te laat vorm. Vernuwe my denke, Here, en maak my gedagtes ’n plek waar U vrede kan woon. Amen.