Ons tema vandag is: Die groot vyf in Afrika.
Tekslesing: Psalm 104: 20-24,27.
“As U die donker bring en dit nag word, roer al die diere in die bos. Die leeus brul op soek na prooi: hulle vra hulle kos van God. As die son opkom, sluip hulle weg en gaan lê in hulle skuilplekke. Dan gaan die mens na sy werk toe, en hy werk tot die aand.
U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep. Hulle is almal van U afhanklik, U gee hulle kos op hulle tyd.”
Die luiperd, buffel, leeu, olifant en renoster staan algemeen bekend as die groot vyf van wilde diere in Afrika. Grootwild-jagters het hul so benoem omdat dit die gevaarlikste en moeilikste soort wildediere in Afrika is om te voet te jag. Hierdie groot vyf verskyn selfs op ons vyf banknote!
Die leeu word dikwels die koning van die bos of oerwoud genoem en het ook die skeppingsverhaal van Psalm 104 gehaal! Die skrywer lig egter nie hierdie koning van die bos uit vanweë sy koninklike, trotse houding nie. Die leeu se asemrowende diep brul word ook nie eerstens gehoor as gevaar of vertoon van grootsheid nie. Hier word niks gesê van die leeu se krag en vaardigheid as jagter nie. Selfs van hulle brul op soek na prooi word net gesê dat hulle hul kos van God vra.
Ook die prooi in die skeppingsverhaal is deel van God se wysheid. God as Skepper se wysheid is om ons almal van mekaar afhanklik te maak vir ons lewens, maar bo alles en almal, afhanklik van Hom. Ons leef nie net uit onsself en vir onsself nie. Ons is daar ook vir mekaar. Jesus kon selfs sy lewe gee soos ‘n lam, ‘n bokkie, as ewige voedsel, offerlam aan die kruis, ter wille van die verlossing van die skepping.
Dalk staan jy bekend as grootse mens soos ‘n leeu, of streef na grootsheid. Laat mense egter eerstens jou lewe ken as dankbaar en afhanklik van God, en ter wille vir andere.
Gebed.
Here, ons is ook afhanklik van U sorg. Dankie vir elke bord kos. Ons gee ook onsself opnuut aan U ter wille van die versorging van andere. Maak ons dapper en sterk te midde van al die gebrul en gevaar in u skepping. Amen.
Goed gaan vriende.