Dagstuk | Woensdag 18 November 2026

Dagstuk | Dinsdag 17 November 2026
Dagstuk | Donderdag 19 November 2026

Ons tema vandag is: God versorg deur sneeu, een van die groot vyf van die Klein-karoo.

Tekslesing:    

Psalm 147:15-16.  “As Hy die aarde ‘n bevel gee, word dit vinnig uitgevoer. Hy gee sneeu so wit soos wol.”   Jesaja 55:10-11  “Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet.”     

Sneeu is ‘n wonderlike bron van versorging in God se skepping.  Dit is soos ‘n dam water wat gestoor word hoog in die berge, en dan deur stadige ontvriesing vrygestel word.  Vir die vrugteboere is dit soos opgespaarde leibeurte!

Sneeu is ook God se wysheid ter wille van rus en herstel van krag in die skepping.  Sneeu op die Matroosberg laat die boere in die Ceresvallei en Montagu se Koo-vallei juig omdat die vrugtebome kan gaan rus in die winter. Aan die einde van die winterrus, in die lente, raak die bome weer wakker en gereed om met nuwe lewenskrag te bot en groei.

Rus was selfs in Israel se sabbatswetgewing vervat. Sabbat betek rus. Daar was verpligte rustye vir herstel en herwin van kragte, maar ook om sommer net God se skepping te kan geniet.

Die Gees van God dra ook rus in ons lewens in.  Te veel mense is vandag oorwerk sonder genoegsame vreugde en rus. Oorbenutting en uitbuiting van die aarde eis sy tol wanneer ons onvolhoubaar meer en meer uit die aarde probeer haal.

Die Here bring deur sy Gees ook innerlike rus en vrede in ons.  Ons dra dikwels te warm en benoud aan die onrustige gedagtes en onrustige gevoelens in ons.

Die Here wil ook die rus van omvattende vrede tussen mense bring, ‘n vrede waar daar vir almal florering en vreugde kan wees.  Dis so anders as die diefstal en korrupsie, geweld en moord, liefdelose selfsug en onbillike arbeidspraktyke, wat alle vrede tussen mense wegneem.

Kom ons leef in God se skepping soos lewegewende sneeu vol belofte van water en rus en vrede.

Gebed.

Here ons God, dankie vir versorgende sneeu met belofte van water en rus vir die plante. Werk in  ons soos sneeu. Maak ons draers van môre se lewe en rus. Gee vrede in ons onrustige harte en in ons verhoudings.  Ons bely ook: ten diepste vind ons net rus in U, by U. Amen.

Môre praat ons oor ryp, een van die groot vyf van die Klein-karoo.  Goed gaan vriende.