Dagstuk | Saterdag 22 Junie 2024

Dagstuk | Vrydag 21 Junie 2024
Dagstuk | Maandag 24 Junie 2024

Ons het hierdie week oor dié tema gepraat: Om deel van ‘n gemeente te wees beteken om… Vandag sluit ons af: jou lewe om te draai

Teks: Lees Handelinge 2:36-42

GEDAGTE

Die nuwe lewe onder die beheer van die Heilige Gees is nie ‘n oppervlakkige, uiterlike verandering nie, maar ‘n totale nuwe lewe. Die Gees verander nie net ons optrede en ons gedrag nie, maar ook ons hart en ons gesindheid. Dit is net die Gees wat my eie selfsug, my eie selfgesentreerdheid, kan oorwin, my kan wegdraai van myself, en my kan rig op God en op my naaste. Ek kan dit nie vanuit myself doen nie, want my sondige natuur is van nature gerig op myself, op my eie behoeftes, my eie bekommernisse, my eie vrese. Net die Gees kan my help om my eie behoeftes, my eie bekommernisse en my eie vrese te oorwin, om verby dit te kyk, en om vir God en my naaste raak te sien.

“Daar moes iewers in jou lewe ‘n draaipunt gekom het.” ‘n Plek waar jy soos Petrus gesê het, jouself bekeer het. ‘n Plek waar jy soos Paulus op jou knieë neergeval het en gesê het: “Here ek het U nodig:” Maar die probleem is ons word van kleins af groot met die kerk en in die kerk en daarom aanvaar ons vanselfsprekend dat ons Christene is. Ek is mos nou nie ‘n slegte mens nie. Maar om in ‘n huis groot te word waar jou pa ‘n dokter is, maak nie van jou ‘n mediese spesialis nie. Jy moet self nog gaan leer om ‘n dokter te word. Net so moet daar ‘n tyd kom waar ek wegdraai en my lewe na God toe draai.

Bekering is verandering . . . . maar nie net ‘n effense verandering nie. Dis nie om in dieselfde rigting aan te hou loop, en jou koers net ‘n bietjie na links, of regs te wysig nie. Bekering is om lynreg terug te draai, en om in die teenoorgestelde rigting te loop van waar jy oppad was. Dit is soos soldate wat in gelid masjeer en ‘n omkeer maak. Bekering is verandering . . . . . . maar ook nie net ‘n uiterlike verandering nie. Dis nie soos om net ‘n nuwe baadjie aan te trek nie. Dis om jou vuil sondige klere by die kruis te los en ‘n nuwe kleed van verlossing aan te trek. Dis nie om jou lewe so te verander dat dit net na buite beter vertoon nie. Bekering is ‘n verandering in die hart. Dit is om in jou diepste wese te verander.

GEBED

Neem my lewe laat dit Heer. U gewy wees meer en meer Amen