Dagstuk | Dinsdag 10 November 2026

Dagstuk | Maandag 9 November 2026
Dagstuk | Woensdag 11 November 2026

Hierdie week word ons genooi om te vra hoe ons God ons vorm.

Romeine 12:2

Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.

Elke dag word ons gevorm.

Ons dink vorming gebeur net wanneer ons doelbewus iets leer of oefen, maar eintlik vorm ons gewoontes, gesprekke, media, vrese en begeertes ons voortdurend. Ons word gevorm deur dit waarna ons luister, wat ons lees, waarop ons fokus en wat ons nastreef.

Paulus waarsku dat dit moontlik is om ongemerk na die beeld van die wêreld gevorm te word. Ons begin waarde heg aan dieselfde dinge wat die wêreld waardeer: sukses, prestasie, status, mag en besittings. Voor ons onsself kry, lyk ons lewens al minder soos Christus en al meer soos die kultuur rondom ons.

Daarom praat Paulus van die vernuwing van ons denke. God se werk in ons begin dikwels nie deur ons omstandighede te verander nie, maar deur ons perspektief te verander. God leer ons om anders te kyk, anders te oordeel en anders lief te hê.

Die vraag is dus nie óf ons gevorm word nie. Die vraag is waardeur en waarna ons gevorm word.

Daar is ’n gesegde wat lees: “Let op na waarna jy oplet”. of “gee aandag aan dit waaraan jy jou aandag gee”. Vandag word die term ‘aandag ekonomie’ gebruik om te verduidelik hoe jou waardevolste bate jou aandag is en hoe alles in die wêreld kompeteer vir jou aandag. So let op waaraan jy jou aandag gee. Word verander deur die vernuwing van jou denke, sodat jy goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.”

Dink vandag verder:

  • Watter dinge vorm jou denke die meeste?
  • Op watter plekke merk jy dat die wêreld se waardes jou beïnvloed?
  • Hoe kan jy vandag ruimte maak vir God om jou denke te vernuwe?

Gebed

Here Jesus, help my om raak te sien wat my vorm. Vernuwe my denke, sodat ek nie bloot die patrone van die wêreld navolg nie, maar al meer soos U kan word. Amen.