Hierdie week word ons genooi om te vra hoe ons God ons vorm.
Jeremia 18:3-6
Ek het toe afgegaan na die pottebakker se huis; hy was juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak. 4Maar die houer wat hy besig was om van klei te maak, het onder die hand van die pottebakker misluk. Hy het toe ‘n ander houer gemaak, soos die pottebakker dit goed gedink het om te maak.
5Toe het die woord van die Here tot my gekom: 6“Is Ek nie in staat om soos hierdie pottebakker met julle te maak nie, huis van Israel?” is die uitspraak van die Here. “Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, huis van Israel.
Jeremia ontvang ‘n interessante opdrag van God: Gaan kyk hoe ‘n pottebakker werk. By die pottebakker sien hy hoe ‘n kleipot skeefloop. Die klei word nie weggegooi nie. Die pottebakker druk dit weer saam, hervorm dit en begin weer totdat die pot word wat hy bedoel het dit moet wees.
Ons leef dikwels met die idee dat ons mislukkings die einde van die storie is. Ons dink God raak teleurgesteld wanneer ons foute maak of afdwaal. Maar die beeld van die pottebakker vertel ‘n ander storie. God gee nie op met die klei nie. God werk daarmee. Vorm dit. Hervorm dit.
Geloofsvorming gebeur nie in een oomblik nie. Dit is ‘n lewenslange proses. Elke ervaring, elke vreugde, elke teleurstelling en selfs elke mislukking word materiaal waarmee God werk. Die vraag is nie of ons perfekte kleipotte is nie. Die vraag is of ons onsself beskikbaar stel vir die Pottebakker se hande – ons of sagte klei is wat nog vormbaar is en of ons hard geword het.
Ons leef egter nie net in God se hande nie. Sosiale media, kultuur, advertensies, vrees en status vorm ons ook. Daarom moet ons voortdurend vra: Watter hande vorm my vandag? En toelaat dat God ons voortdurend hervorm na sy beeld.
Dink vandag verder:
Hoe dink jy voel dit vir die klei om hervorm te word?
Hoe ervaar jy is God tans besig om jou te vorm?
Watter deel van jou lewe het hervorming nodig?
Watter ander invloede probeer jou vorm na die beeld van die wêreld?
Here, U is die Pottebakker en ek is die klei. Dankie dat U nie opgee met my wanneer ek breek of skeefloop nie. Vorm my deur u liefde en genade, sodat my lewe al meer die beeld van Christus kan weerspieël. Amen.