Ek wil jou graag nooi om vir die volgende paar dae saam te reflekteer oor ’n gedeelte uit Jesus se bergpredikasie. Matteus 5:9 lui: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
Met alles wat op die oomblik in ons wêreld aan die gang is, vermoed ek dat baie van ons hierdie woorde met nuwe ywer lees. Ons is op soek na vredemakers wat ’n einde kan bring aan die eindelose geweld. Ons word ook gekonfronteer met ons eie vrae oor watter rol ons dalk kan speel en hoe dit kan lyk.
Ek het onlangs ’n artikel gelees wat Richard Rohr geskryf het oor wat dit beteken om ’n vredemaker te wees en die innerlike werk wat in ons moet plaasvind:
“The gospel is not about being nice; it’s about being honest and just, and the world doesn’t like those two things very much. Our job is to learn how to be honest, but with love and respect. Dr. Martin Luther King Jr. taught us that before we go out to witness for justice, we have to make sure that we can love and respect those with whom we disagree.”
Ek dink dit is ’n belangrike perspektief om in gedagte te hou, veral wanneer ons oor ons eie geskiedenis in Suid-Afrika nadink. Daar is talle verhale van mense wat ’n groot deel van hulle lewe onderdruk en gemarginaliseer is en wat hulle tog steeds daarvoor beywer het om vreedsaam vir geregtigheid te werk.
Een van die geloofsdissiplines wat die eerste gelowiges geglo het ons hiermee kan help, is kontemplasie. Dit behels dat ons op ’n diep vlak reflekteer oor waar ons onsself bevind, wie ons is en wat God van ons vra. Dit is geloofsvrae wat ons kan help om tot ’n dieper vlak van ons menswees deur te dring, waar ons nie meer die behoefte het om iemand of ’n groep in die openbaar te ontbloot, te verneder of te oorwin nie.
Want as ons eerlik met onsself is, besef ons dat dit ons ego se natuurlike verdedigingsmeganisme is om iemand wat ons seergemaak het, ook seer te wil maak. Die eerste gelowiges het egter geglo dat gebed en kontemplasie ’n innerlike verandering in ons teweegbring. Ons neem dan nie meer ’n posisie van mag in nie, maar eerder ’n posisie van weerloosheid en solidariteit. Stadig maar seker verander dit die gesprek.
Kontemplasie spreek ons natuurlike individualisme en narsisme aan. Wanneer ons bevry word van die gedagte dat die wêreld om ons draai en dat ons regte swaarder weeg as dié van ander, kan ons begin leef soos Martin Luther King Jr. gedroom het: met geregtigheid en waarheid, as vredemakers.