Dagstuk | Dinsdag 15 Oktober 2024

Dagstuk | Maandag 14 Oktober 2024
Dagstuk | Woensdag 16 Oktober 2024

Vandag is Dinsdag 15 Oktober en ons is in die vierde kwartaal van die jaar waar ons fokus op ons vierde gemeentewaarde: Om voortdurend te vernuwe. Ons het onlangs ’n nuwe gemeente embleem gekry wat iets van hierdie voortdurende vernuwing wil illustreer. Die verskeie blou sirkels van die embleem is soos verskillende soorte waterputte. In die Bybel is waterputte meer as net fisiese strukture; hulle simboliseer lewensbronne wat ons herinner aan die diep geestelike waarhede van ons verhouding met God. Water, ‘n noodsaaklike element vir lewe, word dikwels gebruik om die rykdom van God se genade en voorsiening te illustreer. Hierdie week verken ons die verskillende aspekte van waterputte, elkeen wat ‘n spesifieke geestelike betekenis en toepassing vir ons lewens het, want waterputte dien as plekke van heilige ontmoetings, versorging en hernuwing.

 Die Waterput van Jakob – Die lewegewende water van Jesus

Skriflesing: Johannes 4:13-14

Maar Jesus Antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.”

Die Herders van destyds moes hulle skape elke dag van water voorsien. Wanneer Jesus die Samaritaanse vrou by die put ontmoet, vertel Hy haar van ‘n ander soort water. By die put het Jesus die Samaritaanse vrou ‘n nuwe soort water aangebied—lewende water wat tot die ewige lewe lei. Hierdie ontmoeting wys dat Jesus self die bron van ewige lewe is. Ons is geroep om ons dors by Hom te les. Alle mense word met ‘n hunkering na God gebore. Hulle probeer dan ook hierdie dors na God op allerhande verkeerde manière les, net om aan die einde van hulle lewe te ontdek dat geeneen van hierdie dinge hulle geestelike dors kon bevredig nie. Die verhaal eindig mooi waar hierdie Samaritaanse vrou die lewende water deel met die mense van die dorp. Hulle ontmoet Jesus persoonlik en getuig dat hulle nou in Hom glo. Hoe help die verhaal vir jou na jou eie soeke na die lewegewende water van Jesus?

Gebed:
Here Jesus, ons kom na U, die bron van lewende water. Vul ons siel met U genade en help ons om in die ewige lewe te wandel wat U aanbied. Dankie dat ons nooit weer geestelik dors hoef te wees nie, want U het alles wat ons nodig het. Amen.