Dagstuk | Woensdag 17 Junie 2026

Dagstuk | Dinsdag 16 Junie 2026
Dagstuk | Donderdag 18 Junie 2026

Goeiedag. Ons is steeds besig om Psalm 139 soos ‘n sagte salf aan die seer van ons onvermydelike eensaamheid te smeer. Eensaamheid is immers onvermydelik omdat daar ‘n leë plek in elke mens se siel is wat net deur God gevul kan word. Soos ‘n babatjie se honger hom dwing om weer en weer gulsig aan sy mamma te drink, so dwing ons eensaamheid ons om weer en weer die woorde van die ewige lewe aan God se bors in te drink.

Wat Psalm 139 vir my so kosbaar maak, is dat hy ons troos deur te sê dat ons nie soos die Verlore Seun ‘n lang reis van die varkhokke na die Vaderhuis hoef aan te pak nie. God is reeds op hierdie plek, al weet ons dit dikwels nie. Daaroor sing Psalm 139 soos mooi soos Stellenberg Hoërskool se meisieskoor. Maar, wanneer ons die Psalm lees klink daar skielik ‘n vals noot op uit hierdie wonderbare lied. In vers 22 klink daar onverwags ‘n skrynende geluid op. is daar vyande, en haat – en om dit nog erger te maak – volkome haat. Ek het meesal lus om daardie verse oor te slaan as ek die Psalm lees. Dit is soos wanneer ‘n mens jou ore wil toedruk wanneer ‘n koorlid die kluts kwyt raak en die note begin sing wat die komponis met beslistheid verwerp het omdat dit nie in sy skepping pas nie. Vyande en haat is nie net kras klanke in die Psalm nie, hulle is grusame geluide in God se lied van die skepping.

Dit was beslis nie God se bedoeling toe Hy ons geskep het nie. Hy wat geweet het dat ons diepste eensaamheid net opgelos word as Hy van binne af aan ons raak, het beter as onsself verstaan dat ons nie God of Gees is nie, ons is mense van been en bloed en vleis en vel. En ons het mense van been en bloed en vleis en vel langs ons nodig. Sonder hulle, het God in Genesis 2:? gesê, is dit nie goed nie.

Maar die sonde wat in ons wêreld ingekom het—met ander woorde ons diepgewortelde selfsug— Veroorsaak dat ons en ander se aanraking van mekaar, in plaas van sag en gerusstellend, soms pynlik en ontstellend word. Dat ons stemklank en die van ander, in plaas van bemoedigend, ontmoedigend word. In plaas daarvan dat ons vir mekaar ’n hulp is, word ons ’n belemmering. In plaas daarvan dat ons ’n troos is, word ons ’n verskrikking. In plaas daarvan dat ons liefhet het ons mense geword wat haatlik is en mekaar haat, só skryf Paulus aan Titus (Titus 3:3) Ja die stukkie oor die haat is inderdaad ‘n vals klank in die Psalm, tog eindig die Psalm op ‘n hoopvolle noot. Dáároor môre, meer.

Slotgebed elke dag:

Heiland, laat my nooit vergeet

dat U alles van my weet,

al is niemand ook by my,

sal U, Here, by my bly.

(Lied 543:3)