
Vir die volgende paar dae gaan ons in ons dagstukkies saam reis deur die eerste paar hoofstukke van Handelinge. Ons hoor dikwels dat daar na Handelinge verwys word as die boek wat vertel van die geboorte van die kerk. Tydens ons Pinksterweek dink ons ook aan die belangrike rol van die Heilige Gees in die geboorte van die kerk.
Dit begin by die baie belangrike gesprekke en opleidingsessies wat Jesus met sy dissipels gehad het in die dae net voor sy Hemelvaart.
Handelinge 1 vanaf vers 2:
“Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. Ná sy dood het Hy met onbetwisbare bewyse aan hulle getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat.”
Dit was selfs vóór Pinksterdag, toe die Heilige Gees uitgestort is, dat die Gees reeds betrokke was by die voorbereiding van die dissipels. Jesus het deur die Heilige Gees met hulle gewerk en aan hulle opdragte gegee, want dit is juis deur die Gees dat hulle in die waarheid gelei en begelei sou word om die werk van Jesus voort te sit ná sy Hemelvaart.
Die Jesus-verhaal en bediening moes verder in die wêreld uitgerol word, en dit kon slegs gebeur as die Heilige Gees hulle toerus en inspireer — vir hulle destyds, maar verseker ook vir ons in ons eie wêreld in 2026!
Dit was veertig dae van intense opleiding vir hierdie strategiese dissipels of apostels. Hulle is met ’n enorme taak vertrou. Ons teks sê duidelik wat die hooftema van hierdie opleiding was: “Hy het met hulle oor die koninkryk van God gepraat.”
Hulle moes presies verstaan wat die koninkryk van God is, hoe dit werk en waar dit sigbaar word. Dat dit ’n ander soort, paradoksale koninkryk is — só anders as die aardse koninkryk wat baie mense verwag het. Dit is, soos iemand dit gestel het, ’n “upside-down kingdom”. Hulle moes verstaan hoe hierdie koninkryk in die wêreld uitgebrei moet word, sodat meer en meer mense die knie kan buig voor die Koning van die koninkryk, Jesus Christus.
Hulle taak is ook ons taak. Maar daarvoor moet ons self eers die koninkryk van God reg verstaan. En daarin help die Heilige Gees van Pinkster ons.
Gebed
Here, dankie dat U steeds deur die Heilige Gees met ons praat en aan ons opdragte gee. Help ons om toe te laat dat die Gees ons leer en wys hoe om u opdrag uit te voer.
Amen.