Vir 40 dae het Jesus se gekose dissipels aan sy voete gesit en ingeneem wat Hy hulle geleer het aangaande die dinge van die koninkryk van God. Dit was wat ons gister gehoor het. Ekself het al so heimlik gewonder hoe ek sou reageer as ek hierdie opleidingsessies en leringe so eerstehands van Jesus ontvang het? Wat sou my reaksie wees? Hoe wonderlik dit sou wees as ekself direk by Jesus kon hoor oor die dinge van die koninkryk van God. Sou ek opgewonde begin hardloop het met die saak omdat ek weet dat dit die wereld kan verander!
Ek glo die dissipels was so geïnspireer dat hulle net op die pad wou kom om hierdie koninkryksaak waarin Jesus hul opgelei het, te gaan uitrol in die Jerusalem en oral elders. Maar, verrassend genoeg sê Jesus vir hulle: “Nee, wag” WAG! Ons lees in Handeling 1:4. (Dit is nou direk na Jesus se opleiding aan hulle) “Moenie van Jersusalem af weggaan nie, maar bly WAG op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.” Jesus verwys natuurlik hier na die koms en uitstorting van die Heilige Gees op pinksterdag. . “Ek weet my leringe en opleiding het julle ge-energeer om te begin met julle taak… maar… wag eers!
Vir hulle, sy dissipels ( en seker veral vir die voortvarende Petrus) was dit seker maar moeilik om te wag. Want om te wag is nie maklik nie. Ek hou ook nie eintlik van wag nie! Maar, om te wag is (of is veronderstel om te wees) so krities belangrik in die lewe van ‘n gelowige. Jesus het baie gesê: “Wag eers!” Ons kan ook baie tekste uit die Ou Testament aanhaal waar die noodsaaklikheid van wag beklemtoon word. Dink maar aan Psalm 130: “Ek wag op die vervulling van sy Woord. Ek wag op die Here, meer as wat die wagte op die more wag, wagte op die more. Wag op die Here Israel, want by die Here is daar troue liefde”
Ons leef in ‘n wêreld waar “kits” die uitroep van ons tyd geword het; kitskos, kits-koffie, kits-geloof, kits-alles! WAG het eintlik ‘n irriterende tydmors geword. So glo en voel ons baie keer. Die Woord leer ons egter: “Wag op die Here!” Dit is einlik een van ons belangrike geloofs-dissiplines. Dit skep tyd in ons besige program om stil by God uit te kom, om mooi te kan hoor wat hy vir my wil sê en om rustig met Hom te kan praat.
Gebed: Here, leer my om te wag op U” Amen