
Dagsê!
Ons is hierdie week besig met 1 Korintiërs 13:4–7. Kom ons lees saam:
Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
Tot sover.
Let op hoe hierdie teks een groot personifikasie van die liefde is. Ekskuus vir die groot woord, ek weet u ken dit, maar gebruik dit waarskynlik nie dikwels nie. Daarom gaan ek gou u geheue verfris. Personifikasie is wanneer jy oor iets wat nie ’n mens is nie, praat asof dit ’n persoon is. Wanneer jy op ’n koue oggend vir jou vriend sê: “Die son is maar ’n bietjie lui vanmôre,” dan personifieer jy die son, want dit is gewoonlik net ‘n mens wat lui is. (o, ja en katte ook – maar u verstaan wat ek bedoel).
Paulus personifieer die liefde in ons teks. Hy sou kon sê: “Iemand wat liefhet, tree altyd geduldig op.” Maar hy doen dit juis nie, want hy wil nie net inligting oor die liefde oordra nie, hy wil gedragsverandering by sy gelowige leser aanmoedig. Daarom wil hy op ‘n subtiele manier ons aandag op Jesus vestig. Hy wil hê jy moet die gesig van Jesus herken in die prentjie wat hy van die liefde aan jou voorhou. Hy wil hê dat jy moet snap: Aaaa, die eienskappe van die liefde wat jy opnoem, liewe Apostel, is presies die geaardheid van Jesus. Jesus is geduldig, Jesus is vriendelik ensovoorts.
En as jy dit eenmaal goed raakgesien het, kan jy sommer ook verstaan dat hierdie prentjie van die liefde, ook sommer ‘n prentjie van God die Vader is. Die Seun, Jesus, is immers God self wat mens geword het. In Jesus het die liefde ‘n persoon geword.
Maar daarmee is ons nog nie by die uiteindelike doel van hierdie personifikasie nie. Die liefde moet in ons ook gestalte vind. Wanneer jy lank en aanbiddend na Jesus kyk oor Hom nadink, met Hom wandel – wanneer dit gebeur, word jy al hoe meer soos Hy. Dan word die beeld van God in ons heelgemaak.
Dus moet ons hierdie teks driemaal lees. Die eerste keer soos wat hy daar in die Bybel geskrywe is. En dan moet jy weer lees, die tweede keer: Die slag met Jesus se naam in die plek van “die liefde”. En dan ‘n derde keer. Hierdie een is die moeilikste, maar ook die belangrikste een. Verbeel jou mense praat oor jou. En hoor dan hoe hulle die teks opsê met jou naam in die plek van “die liefde”, byvoorbeeld:
“Ou Koos is geduldig en vriendelik”, of “Annie is nie liggeraak nie, en sy hou glad nie boek van die kwaad nie! – wat ‘n liefdevolle mens is sy nie”
Ek weet dat mense nog nie so oor my kan praat nie, maar ek werk daaraan. Jy moet ook.
Gebed
Kom ons aanbid die Here nou met Lied 433 se woorde:
U is Liefde!” juig ons harte, en bedink wat liefde doen:
Dat U ons u Seun gestuur het om ons sonde te versoen.
U wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef—
nou kan ons, uit u gebore, uit die bron van liefde leef!
Deur u Gees, die wondergawe, laat U wederliefde spruit; en die liefde — wat volmaak is — dryf die vrees en selfsug uit.
As, U, o Vader, dan ‘n sondaar maak tot kind,
mag u Seun al meer gestalte in ons doen en late vind.
Amen