Dagstuk | Maandag 19 Oktober 2026

Dagstuk | Saterdag 17 Oktober 2026
Dagstuk | Dinsdag 20 Oktober 2026

Die liefde is ’n doener

Dagsê!

Ek wil u hierdie week nooi om saam met my, in die teenwoordigheid van die Here en oop vir die werk van die Heilige Gees in ons, na te dink oor 1 Korintiërs 13:4–7.

Vir baie mense is dit met 1 Korintiërs 13 soos met ’n duur parfuum. ’n Vrou stap byvoorbeeld by die deur in, en die subtiele geur van ’n parfuum omgewe haar. Dit laat jou lekker voel in haar teenwoordigheid. Jy hou daarvan om die parfuum te ruik, maar jy het geen behoefte om uit te vind waaruit die parfuum saamgestel is, sodat jy dit by die huis kan namaak nie. Jy wil dit bloot geniet en dan aangaan met jou lewe soos vantevore.

Met 1 Korintiërs 13 is dit amper so. Dit is vir ons lekker om daarna te luister of dit te lees, maar ons breek nie regtig ons kop om beter te verstaan waaruit hierdie liefde, hierdie aangename geur, hierdie heilige parfuum, saamgestel is nie. Ons wil dit nie noodwendig in die lewenskombuis gaan namaak nie.

Máár die Heilige Gees wil juis hê dat ons dit namaak, naleef en uitleef. Hy wil hê dat ons, soos die bidder van Psalm 1, nie net vreugde in die woord van die Here sal vind nie, maar dit ook dag en nag sal oordink. Hy wil hê dat ons die heeltyd sal vra: “Wat beteken dit prakties?” Hy wil hê dat ek moet vra: Hoe moet ek leef sodat alle ander mense sal agterkom dat ek hulle liefhet? Hy wil hê dat ek ’n boom moet word wat sy vrugte op sy tyd gee.

Want let op: Hierdie vraag, “Wat beteken dit prakties?”, is by hierdie teks van groot belang. In die Griekse teks van 1 Korintiërs 13:4–7 is daar 43 woorde, waarvan 15 werkwoorde is. Dink so daaraan: Meer as ’n derde van hierdie hele perikoop gaan oor iets wat ’n mens doen of nie doen nie.

Ons dink dat liefhê beteken om iets te voel. Neeee, sê die Heilige Gees. Liefhê is nie iets wat jy voel nie, maar iets wat jy doen; ’n manier van optree; ’n manier van menswees.

Ons gaan nou eers hier vassteek en die teks lees. Môre, as die Here ons lewe spaar, wil ek eers gou nog ’n geheimpie oor die teks uitlap. Daarna sal ons na ’n paar van die doenwoorde kyk. En terwyl ek nou die teks lees, kyk of jy hulle kan raakhoor.

1 Korintiërs 13:4–7

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Ons het die Here se stem in die teks gehoor. Nou wil Hy ons aanbiddende, antwoordende, amensêende stem hoor. Ons gaan hierdie week dieselfde woorde oor en oor bid. Ek het lied 334 effens aangepas, sodat dit nie óór God praat nie, maar mét God praat.

Kom ons praat nou met die Here:

„U is Liefde!” juig ons harte, en bedink wat liefde doen:

Dat U ons u Seun gestuur het om ons sonde te versoen.

U wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef —

nou kan ons, uit u gebore, uit die bron van liefde leef!

Deur u Gees, die wondergawe, laat U wederliefde spruit;

en die liefde — wat volmaak is — dryf die vrees en selfsug uit.

As U, o Vader, ’n sondaar maak tot kind,

mag u Seun al meer gestalte in ons doen en late vind.

Amen.