Dagstuk | Dinsdag 25 Junie 2024

Dagstuk | Maandag 24 Junie 2024
Dagstuk | Woensdag 26 Junie 2024

Psalm 16: 5-6. Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.

Vandag se Psalm bring ons ons by die plek om God se kragtige teenwoordigheid in dankbaarheid te kan ontdek. Ek is die afgelope week geraak deur mense wat oor my pad gekom het wat ten spyte van baie groot uitdagings en tekortkoming dit reg kry om vergenoegd te lewe. Die uitdagings van die lewe het hulle geleer om nie die basiese wat hulle het as vanselfsprekend te aanvaar nie, maar dit opnuut te waardeer en dankbaar daarvoor te wees. Aan die ander kant het ek ook te doen gekry met mense wat veel meer besit en hulle verknies oor veel geringer uitdagings. Te midde van voorregte is daar net altyd iets om oor onvergenoegd te wees. En ekself kan my met hierdie groep identifiseer. Ons is mense met issues vir wie daar dikwels net een uitweg is: Om van dit waaroor ons onvergenoegd is ontslae te raak deur kapitaal, invloed, status of deur druk op mense te plaas. Die standaard tafelgebed sluit gewoonlik met dié sin af: “Here, en wees met die wat minder bevoorreg is”. Wat beteken hierdie woorde as ons sekondes daarna ‘n smaaklike maaltyd geniet? Die ervaring van dankbaarheid in ons teksgedeelte is anders as die gedagte van ‘n smaaklike ete. Dit is ‘n spontane gedig wat die ervaring uitspreek van iemand wat te midde van uitdagings, probleme en skaarste diep onder die indruk van God se seën kom in die mees basiese lewensmiddele. Wat hierdie dankbaarheid so kragtig maak is dat dit ons te midde daarvan inspireer om ons tyd, middele, geld, gawes en energie spontaan te deel. Ons vra dus nie net vir God in ons tafelgebede om aan die te voorsien wat minder het nie. Dit dring ons om die pragtige deel wat vir ons afgemeet is en wat ons van God ontvang het te kan deel. Waaroor is jy vandag dankbaar? Hoe kan jy vandag daarmee na mense toe uitreik?

Gebed

Here, ek loof en dank U vir die vrede van die nag. Ek loof en dank U ook vir die lig van elke nuwe dag en vir al u goedheid en troue dwarsdeur my lewe. Here, U stap al so lank die lewenspad saam met my, laat my ook nou die hardheid van my hede aanvaar. Maar meer Here, laat my insien dat ek te midde daarvan geseën is om genoeg te kan hê en nog oorvloedig te kan uitdeel. Here, dankie dat U my in hierdie dag by die krag van dankbaarheid uitbring wat deur my onvergenoegdheid breek. Amen.