https://youtu.be/ThyYEMfXSp4
Lees: Romeine 5:8
“Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Van kleins af leer ons dat dit goed is om met ander te deel en mense in nood te help. Maar het jy al gewonder waarom ons dit doen? Is omgee bloot goeie maniere, of lê daar iets diepers agter?
Paulus help ons om hierdie vraag te beantwoord. In 1 Korintiërs 13:3 skryf hy: “Al deel ek alles uit wat ek besit, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.” Dit beteken dat ‘n mens uiterlik baie kan gee sonder om werklik om te gee.
Ware omgee begin nie by ons nie, maar by God. Dit word gebore uit die besef dat Hy ons eerste liefgehad het. Nog voordat ons na Hom gesoek het, het Hy na ons uitgereik. Nog voordat ons enigiets kon verdien, het Hy sy Seun vir ons gegee.
Daarom gee ons nooit net geld, tyd of hulp nie. Wanneer ons vanuit God se liefde leef, deel ons iets van sy goedheid, sy genade en sy oorvloed. Dan word ons dade meer as bloot hulpverlening – dit word getuienisse van God se hart.
Die wonder is dat hierdie liefde nie net ander verander nie; dit verander ook vir ons. Omgee word dan nie ‘n las wat energie uit ons tap nie, maar ‘n vreugde wat nuwe lewe gee. Daarom is dit goed om onsself af te vra: Gee ek omdat ek moet, of omdat ek reeds deur God se liefde verander is?
Hemelse Vader, dankie dat u liefde nie van ons verdienste afhanklik is nie. U het ons liefgehad lank voordat ons na U gesoek het, en U het u liefde onomstootlik bewys deur Christus vir ons te gee toe ons nog sondaars was.
Vorm ons harte deur dieselfde liefde. Bewaar ons daarvan om bloot uit plig, gewoonte of skuldgevoel goed te doen. Laat ons omgee voortspruit uit dankbaarheid vir alles wat ons reeds uit u hand ontvang het.
Wanneer ons voel dat ons te min het om te gee, herinner ons daaraan dat die grootste geskenk nie in ons hande lê nie, maar in U. Maak ons bereid om u liefde, genade en hoop met ander te deel.
Mag elke woord van bemoediging, elke daad van vriendelikheid en elke offer wat ons bring, ‘n venster wees waardeur mense iets van Christus kan sien.
Amen.