Omgee word sigbaar in wat ons doen
Lees: Lukas 10:25–37
Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan begin met ‘n eenvoudige vraag: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Die wetgeleerde ken die regte antwoord. Hy ken die wet en verstaan sy godsdiens. Maar Jesus wys dat ware geloof nie net in die regte antwoorde lê nie, maar ook in die manier waarop ons leef.
In die gelykenis stap ‘n priester by ‘n gewonde man verby. Dit is juis die persoon van wie almal sou verwag om te help. Tog kies hy om nie betrokke te raak nie. Miskien was hy bang dat hy volgens die reinigingswette onrein sou word en nie sy diens in die tempel sou kon verrig nie. Sy godsdiens het belangriker geword as die mens voor hom.
Daarteenoor sien die Samaritaan die man raak. Hy redeneer nie eers oor wie die beseerde is of of hy hulp verdien nie. Hy word eenvoudig deur ontferming beweeg. Sy geloof kry hande en voete.
Dit is die uitdaging waarmee Jesus ook vir ons konfronteer. Omgee gaan nie in die eerste plek daaroor dat ons die regte dinge glo nie, maar dat ons geloof sigbaar word in die manier waarop ons ander mense behandel. Ortodoksie en ortopraksie hoort bymekaar. Regte geloof vind sy volheid wanneer dit uitloop op dade van liefde.
Miskien plaas die Here vandag iemand op jou pad wat nie nóg ‘n mening nodig het nie, maar ‘n oop hart, luisterende ore en helpende hande. Ware geloof loop nooit by mense in nood verby nie.
Gebed
Here Jesus, ons bely dat dit dikwels makliker is om reg te dink as om reg te doen. Ons ken u Woord en wil getrou aan U wees, maar tog stap ons soms by mense in nood verby omdat ons eie gerief, planne of oortuigings vir ons belangriker geword het.
Vergewe ons wanneer ons godsdiens belangriker maak as barmhartigheid. Bewaar ons daarvan om u waarheid as ‘n verskoning te gebruik om nie lief te hê nie.
Dankie dat U nie by ons nood verbygestap het nie. U het ons raakgesien, ons wonde verbind en ons deur u genade herstel.
Gee ons oë wat mense raaksien, ore wat hulle nood hoor en hande wat bereid is om te dien. Vul ons met u Heilige Gees, sodat ons geloof nie net in ons woorde sigbaar sal wees nie, maar ook in ons dade.
Wanneer U vandag iemand oor ons pad stuur, gee ons die moed om nader te kom en met deernis op te tree. Laat ons lewe iets weerspieël van u liefde.
Amen.