Dag 4 en ons stap van Melide tot Arzua. Dit is so 15 km. Elke oggend het ek voor ek stap ‘n teksvers gekry wat jy saam jou kan neem vir die dag. Vandag se teks was toe Mat 5:43-48 waar Jesus sê jy moet jou vyande lief hê. Ek wonder toe hoekom sal ek nou vandag die teks kry want ek het regtig nie vyande op die Camino nie en wil beslis ook die vyande maak nie. Daar gelaat begin ek my stap vir die dag.
As jy so stap tussen die dorpies is daar orals klein kafeetjies waarby jy kan stop om koffie te drink en die badkamer gebruik. So kom ek by een van die kafees. Daar is toe ‘n lang ry wat wag om bedien te word. Ek besluit toe om solank die sleutel vir die badkamer te vra en dan eers daar ’n draai te maak. Ek stap vorentoe om die sleutel te vra, maar die Spanjaard agter die toonbank ignoreer my. Een vrou in die ry sê toe vir my ek moet maar in die ry staan en wag hy gaan my nie help nie. So besluit ek toe om maar in die ry in te val en my beurt af te wag. Terwyl ek so in die ry staan hou ek hom dop en merk toe op dat hy nie ‘n baie vriendelike persoon is nie. Ek let toe ook op hoe vol vuil skottelgoed die toonbank is en wonder by myself of hy dit nie net bietjie wegpak sodat sy plek beter lyk nie.
Uiteindelik kom ek voor. Ek wag tot hy vir my kyk en aandag gee en vra toe baie mooi beleefd vir die sleutel. Hy sê toe vir my “Ein momente” wat beteken wag ‘n oomblik. So asof hy my gedagtes kon lees – begin hy toe om rustig, op sy tyd, die vuil skottelgoed weg te pak. Ek wag en ek wag en ek wag. Na ek hoe lank gewag het, besluit ek toe om maar die badkamer en koffie te los en weer in die pad te val. Maar soos ek verder stap is my gemoed ontsteld oor die Spanjaard wat my so sleg behandel het en ek wil nie so ontsteld wees nie. En ja, daar kom vanoggend se teks toe in my gedagtes op. Jesus wat sê: jy moet jou vyande ook liefhê.
Uiteindelik raak ek toe weer rustig terwyl ek die teks oordink. Na ‘n hele rukkie se stap sien ek nog ‘n koffiewinkel en besluit om daar in te gaan. Hier ontvang ek die vriendelikste diens, heerlike koffie en ‘n gratis stuk lemoenkoek. Hier kon ek toe in vrede ’n bietjie rus en Spaanse vriendelikheid as gasvryheid geniet.
Dit het my laat besef dat in dié lewe is uitdagings daar met ‘n doel. Dit stuur ons dalk in ‘n ander koers in of neem ons na ‘n beter plek.
TEKS: Mat 5:43-45: 43“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ 44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê , en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.
GEBED: Here, leer my assblief om my vyande ook lief te hê.