Dagstuk | Donderdag 12 September 2024

Dagstuk | Woensdag 11 September 2024
Dagstuk | Vrydag 13 September 2024

 

Teks: Spreuke 15:16-17

16Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor. 17Liewer net ‘n bietjie groente en liefde daarby as ‘n vetgemaakte os en haat daarby.

GEDAGTE: TEVREDE MET JOU LEWENSREIS

Is jy tevrede met hoe dit met jou gaan? Om tevredenheid met ons lewensreis te ervaar is eintlik ’n baie dieper begrip as wat ons dink, of besef. Ons moet verstaan dat daar ’n wêreldse definisie vir tevredenheid is. Dit het dikwles met rykdom en aardse besittings te doen. Die Here se Woord wil ons leer wat ware tevredenhied is en hoe ons dit, elke dag van ons lewens kan ervaar.

Daar kom baie dinge op ’n mens se lewenspad wat jou ontevrede kan maak. Want dinge in hierdie lewe gebeur nou maar net ongelukkig nie altyd soos ek en jy dit wil hê nie. So lees ons in die Bybel van Paulus se lewe wat soms baie uitdagend was. Hy was vals beskuldig, met klippe gegooi en met stokke geslaan. Tog skryf hy vir ons om altyd bly te wees. of om tevrede te wees in alle omstandighede.

Soms voel dit of ’n mens aanhoudend swoeg en sweet, maar niks regkry nie. Dalk was jou lewensreis nie maklik nie, tog kan ons vertrou dat die Here ons lewens bestuur.  Dat Hy ons lewensverhaal skryf.  Dalk kan jy vandag oor jou lewensreis terug kyk en sien hoe die Here jou gedra het. Al was daar uitdagende en moeilike tye. Jy leef steeds vandag en jou lewensreis is nog nie klaar nie. Leef voluit en geniet die lewe tot eer van God.

GEBED

Here, as ek terugkyk op my lewenspad sien ek U getroue hand daarin. Stap asb elke tree van elke nuwe dag ook saam met my. Amen.