Dagstuk | Woensdag 15 April 2026

Dagstuk | Dinsdag 14 April 2026

TEKS: Johannes 20:21 “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

TEMA: Jesus verskyn aan die dissipels sonder Tomas

BOODSKAP

Jesus gaan die vertrek deur ’n geslote deur binne, wat daarop dui dat sy opstandingsliggaam ’n unieke karakter het. Jesus het tussen hulle gaan staan. Die dissipels moes hulle byna doodgeskrik het. Jesus groet hulle gerusstellend: “Vrede vir julle!”

“Toe wys Hy hulle sy hande en sy sy.” Die wonde aan sy liggaam en die feit dat Hy duidelik herkenbaar is vir sy dissipels, bevestig dat dit inderdaad Jesus is wat hier by hulle staan. Toe Jesus die merke aan sy hande en sy sy aan sy volgelinge wys, kon daar geen twyfel meer bestaan het dat dit dieselfde Jesus is wat aan die kruis gesterf het nie. Hy dra die tekens van die dood nog aan Hom, maar staan tog lewend voor hulle. Dit kan net een ding beteken: Hy het werklik uit die dood opgestaan (v. 20). Daarom is sy dissipels bly toe hulle Hom sien.

Jesus se woorde: “Ek gee vir julle vrede,” is baie betekenisvol. Jesus gee ware vrede – volkome vrede. Vrede wat die wêreld ons nie kan bied nie. Ons vrees word deur God erken, en midde-in ons deurmekaar, kommerwekkende lewe kan ons ook hierdie vrede ontvang. Die vrede van God is joune en myne. Baie mense is bang: verlore mense, mense sonder veel hoop, mense sonder uitsig op die toekoms. En Jesus kom en gee hierdie geskenk aan ons – Sy vrede – midde al hierdie uitdagings. Jesus bring troos en versekering. Hy bring God se vrede vir ons. Ons lees in Joh. 16:33: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Die vrede wat Jesus gee, is nie afhanklik van uiterlike wêreldse omstandighede nie. Dit is afhanklik van Jesus se kruis en die totale vertroue op God.

Christus gee m.a.w. nie Sy vrede op die manier wat die wêreld dit gee nie. Die wêreld se vrede is oppervlakkig, nie bevredigend nie en tydelik. Die vrede van Christus is vrede in die hart; dit gee altyd rus en sal vir ewig bly. Na Paasnaweek kan jy weer leef met hierdie vrede in jou hart. God is in beheer. Mag jy in jou lewensreis, waar jy nou is, ook hierdie vrede ervaar.

GEBED

Liewe Heer,

Ek kom na U toe en vra vir U vrede. Kalmeer my hart wanneer ek angstig voel en maak my gedagtes stil wanneer dit onrustig is. Vul my met U teenwoordigheid en omring my met U vertroosting. Help my om op U te vertrou en te rus in die vrede wat net U kan gee.

Amen.