Dagstuk | Donderdag 20 Augustus 2026

Dagstuk | Woensdag 19 Augustus 2026
Dagstuk | Vrydag 21 Augustus 2026

Goeiemôre, vriende. Dis Donderdag 20 Augustus. In ons dagstukkies hierdie week lees ons Bybeltekste oor wilde voëls in God se skepping.

Ons tema vandag is: ’n Duif as teken van die Heilige Gees.

Tekslesing: Matteus 3:16; Lukas 4:1-2.

Juis hierdie Matteus-teks maak dat die duif ’n wilde voël is wat as ’t ware beroemd geword het in die Christelike kerk. Die duif word vergelyk met die Heilige Gees. Op Jesus se eerste amptelike werksdag het die Heilige Gees soos ’n duif na Jesus neergedaal en op Hom gekom.

Hierdie koms na Jesus was ’n bevestigingsteken dat die Gees Hom gaan vervul en lei in sy bediening van drie jaar, enduit, tot aan die kruis.

Die Gees het Hom sommer al op die eerste dag van sy nuwe bediening gelei na die swaarkry van ’n woestyn. Die Heilige Gees het Hom vervul met krag en uithouvermoë in die woestynlewe. In sy kwesbaarste oomblikke is Jesus selfs deur die duiwel versoek.

Die Heilige Gees het Hom toe vervul met wysheid om Bybeltekste te gebruik soos God wil, en nie soos die duiwel wou nie. Hy kon deur die Gees die versoekings wat mag en gewildheid kan bring, weerstaan. Deur die Gees het Jesus regdeur sy bediening die aanslae weerstaan en die toets geslaag.

Ek het eenkeer in die Kompanjiestuin in Kaapstad ’n gebukkende dogtertjie gesien wat besig was om die duiwe oral om haar te voer. Een van die duiwe het selfs op haar gaan sit. Sien jouself vanoggend soos die dogtertjie in die Kompanjiestuin. Die duif wat op jou kom, is egter die Heilige Gees. Hy wil jou dag na dag lei en vervul vir die lewe as dissipel van Jesus.

Jy ken woestyne in jou lewe, jy ken ook die krag van versoekings wat jou verlei na die makliker en lekkerder uitweg as wat God wil. Die Heilige Gees is in alles en deur alles by jou. Daar sal ook altyd engele op jou pad kom wat jou versorg, soos Jesus dit in die woestyn beleef het. (Markus 3).

Gebed:

Heilige Gees, U het ook oor ons gekom. Ons weet dit deur geloof in Christus. Vervul ons elke dag op ons pad as dissipels van Jesus. Wees veral naby ons in woestyne van swaarkry en die misleiding van versoekings. Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose.

Goed gaan, vriende.