Goeiemôre, Vriende. Dis Vrydag 21 Augustus. In ons dagstukkies hierdie week lees ons Bybeltekste oor wilde voëls in God se skepping.
Ons tema vandag is: So sterk soos ’n arend.
Tekslesing: Jesaja 40:28-31; Filippense 4:13.
Wanneer die Here met ons praat oor die arend, wil Hy hê ons moet dink aan die geweldige krag in sy vlerke. Die swaeltjie het sterker en wyer vlerke as die mossie, maar nie een van hulle kom by die krag van die arend nie. Die arend kan hoër, vinniger en verder vlieg. Hy kan selfs vir lang tye op die wind rus wat onder sy vlerke deur beweeg.
Soms voel dit vir jou of dinge te veel en te swaar word, of te lank aanhou. Jy voel jy kan nie meer uithou en aanhou nie. Jy raak moedeloos en wil ophou. Onthou dan dat die Here wat die groot vlerkkrag aan die arend gee, ook vir jou wil sterk maak.
Die apostel Paulus het gesê: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Koning Dawid het gesê: “Met my God spring ek oor ’n muur.” Hy help my om die styfste boog te span. Die profeet Jesaja sê: Vertrou op die Here wanneer jy in jou swaarkry steeds moet loop, selfs hardloop, en selfs voel asof jy moet kan vlieg soos ’n arend.
Ou mense weet hoe swaar die ouderdom kan wees. Maar ook jongmense, met al die jeugdige krag in hulle jong liggame, beleef die swaar van die lewe wat dikwels vir ons te veel voel.
Moet net nie te gou sê: “Ek kan nie.” Wanneer die Here vir jou ’n moeilike taak oplê en jou wil laat aanhou en uithou, sal Hy jou die krag gee. “Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.”
Dankie vir die krag wat U gee. Vervul ons daarmee van dag tot dag. Ons bid vir ander wat deur swaarkry gaan. Gee vir ons selfs die krag om nie net ons eie swaarkry te dra nie, maar om ook ’n kragbron van U te wees vir ander.
Ons vertrou op U, met U oneindige krag.
Mooi loop, Vriende.