Matteus 28:20
Na Jesus se opstanding was daar onder die dissipels ‘n tyd van verwarring. Hulle kon nie sin maak van wat die gebeure beteken nie en het gehoop dat hulle na hierdie gebeure weer met die opgestane Jesus kon terugkeer na Galilea om soos in die verlede met hulle bediening voort te gaan. Toe die dissipels na die Paasfees gebeure weer in Galilea tuis gekom het, het Jesus hulle daar ontmoet en dan volg die baie bekende teksgedeelte in Matteus 28 waar Jesus hulle uitstuur om oor die gebeure te getuig en mense te leer.
Gaan dan na alle nasies toe. Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.
Wat presies vra Jesus ons om vandag te doen? Wat het Hy spesifiek die dissipels kom leer en beveel? Ons haak so maklik by allerhande twee-orde-kwessies vas as dit by die kerk en ons getuienis kom, terwyl die eerste-orde-opdragte van Jesus baie eenvoudig is. Jesus het sy dissipels kom leer van God se genade en liefde wat nie grense ken nie en dit prakties gedemonstreer in die manier waarop Jesus na mense wat in die samelewing uitgestoot is, uitgereik het. Hy het nie vir sy navolgers beloftes gemaak oor persoonlike voorspoed nie, maar oor die seën van ‘n lewe wat prakties iets beteken. Hy het hulle geleer van die vrede van God wat na jou deurspoel wanneer jy met matigheid en met bedagsaamheid voor God leef. Wat is die eerste-orde-kwessies waarvan die Here jou in hierdie tyd bewus maak?
Gebed
Liewe Here. Ons dank U vir die voorreg om u dienaars te wees in hierdie wêreld. Vader, U roep ons om U hande en voete te wees, en ons vra dat U ons sal toerus en lei om ander met liefde te dien. Stuur ons, o God, na die plekke waar u lig nodig is, sodat ons u genade en vrede kan deel met almal wat ons ontmoet.
Maak ons harte oop en ons oë waaksaam, sodat ons die nood van ander kan raaksien. Vul ons met u deernis en empatie, sodat ons met opregte omgee kan dien. Gee ons die moed om ons gerief agter te laat en uit te reik na die wat swaarkry en verlore is.
Here, gebruik ons talente en gawes tot U eer. Laat ons woorde en dade weerspieël van u liefde en waarheid. Mag ons elke geleentheid aangryp om u heerlikheid bekend te maak, en mag ons deur ons diens anderen nader aan U bring.
Ons vertrou op u leiding en wysheid, en bid dat U ons stap vir stap sal lei op die pad van diensbaarheid. Mag ons deur ons diens vernuwing en hoop bring in ons gemeenskappe. Amen.