Teks: 1 Samuel 16:7
“Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here kyk na die hart.”
Samuel moet op die Here se bevel een van Isai se seuns gaan salf as koning, want die Here het onder sy seuns ‘n koning vir Hom uitgesoek. ‘n Man wie se hart aan Hom behoort. Wanneer Isai sy seuns by Samuel laat verbygaan, is dit opmerklik hoe goed hulle vir almal rondom hulle lyk, maar die Here kyk dieper en kies nie een van hulle nie. Die Here sê vir Samuel: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.” Wanneer Dawid dan verskyn, sê die Here vir Samuel: “Staan op, salf hom, want dit is hy.” Die man na God se hart (1 Sam. 13:14) was nie so imposant soos Saul nie. Sy pa, Isai, was ook nie skatryk soos Kis nie. Maar Dawid se hart was op die regte plek. Hy het die Here liefgehad.
Samuel maak dieselfde fout as wat ons dikwels doen. Ons beoordeel mense op uiterlike dinge: voorkoms, status, rykdom en invloed. Dis hoe mense nog altyd was. Wat jy het, hoe jy lyk, wat jy verdien en hoeveel mag jy het, tel dikwels meer as wie jy is.
God is nie so nie. Jesus het Homself dikwels tuis gevoel by die nederiges, die geringes, die eenvoudiges en die armes. Daarom word Jesus groot in ‘n eenvoudige huis in Nasaret, ver weg van die vernames, rykes en invloedrykes van sy dag. Jesus het gesê (Luk. 6:20): “Geseënd is julle wat arm is …” en erken dat Hy nie eers ‘n plek het wat Hy sy eie kon noem nie (Luk. 9:58). ‘n Geleende donkie was vir Hom goed genoeg toe Hy Jerusalem binnegegaan het vir sy laaste Paasfees (Luk. 19:28–40).
Dit is ‘n tydlose waarheid dat fisiese voorkoms vervaag, maar ware, blywende skoonheid lê in innerlike waardes, karakter en ‘n verhouding met God. Die bekende Bybelvers uit Spreuke 31:30 som dit treffend op: “Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien ‘n vrou om geprys te word.”
Die mooi van die lewe is nie altyd raak te sien in uiterlike dinge nie. Dit wat in ons hart is, weerspieël tydlose skoonheid. Ware skoonheid is geestelik en nie uiterlik nie. God waardeer karakter, reinheid, nederigheid en getrouheid.
Here, help ons om die skoonheid in elke mens raak te sien en om mekaar met genade, geduld en respek te behandel. Leer ons om te vergewe soos U vergewe, om aan te moedig soos U aanmoedig en om sonder voorwaardes vir mekaar om te gee.
Mag ons woorde genesing bring, ons dade vertroosting bring en ons lewens ‘n getuienis wees van die krag van liefde.
AMEN.