Dagstuk | Vrydag 26 Junie 2026

Dagstuk | Donderdag 25 Junie 2026

Tema: Sonde het die mooi in die lewe kom steel

Teks: Jesaja 59:2

“Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.”

Boodskap

Wat in die Tuin van Eden gebeur het, bly vir ons seker een van die grootste raaisels. Adam en Eva het álles gehad wat nodig was om gelukkig, geborge en tevrede te wees. Die Bybel sê dit ook uitdruklik aan die einde van die skeppingsverhaal (Gen. 1:31): “God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.” In hierdie baie goeie wêreld het Adam en Eva gewoon, en saans het God by hulle kom wandel. Dit was idillies.

Toe kruip die sonde in en kom steel alles wat mooi was. Dit bring ‘n skeuring tussen God en mens, en tussen mens en mens. Dit bring hartseer, pyn en die dood. Alles wat God so mooi en goed geskape het, word eensklaps deur sonde bevlek. Die hartseer werklikheid is dat ons ook as gevolg hiervan met sonde bevlek is. Alles wat God bedoel het om mooi, goed en vol vrede te wees, word omvergewerp.

Die evangelie, die goeie nuus, in Genesis 3 is dat God nie sy rug op Adam en Eva gedraai het nie, al het hulle Hom verwerp. Hy het hulle opgesoek en nog ‘n kans gegee. Só is God. Hy bly steeds by ons betrokke, reik na ons uit, help ons, sien ons in ons sondenood raak en red ons uit ons nood.

Daarom het Hy sy Seun gestuur, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. God het ‘n mooi wêreld en mooi verhoudings geskep, maar sonde het gebrokenheid, pyn en dood gebring. Christus het gekom om te herstel wat sonde vernietig het. As ons ons sonde bely, herstel Hy die gebroke beeld in ons, en deur sy Gees word ons gevorm om al meer soos Jesus te wees. Die kruis is God se antwoord om verlore skoonheid te herstel.

Gebed

Liewe Here Jesus,

Dankie dat U ons so liefgehad het dat U aan die kruis vir ons sondes gesterf het. Dankie vir u genade, vergifnis en die nuwe lewe wat ons deur U ontvang. Al verdien ons dit nie, het U ons met oop arms ontvang en ons skoon gewas van ons sonde.

Help ons om elke dag in dankbaarheid te leef, u voorbeeld te volg en ander te vergewe soos U ons vergewe het. Mag ons harte altyd gevul wees met liefde vir U.

Amen.