Tema: Liefde vir die vyand
Teks: Matteus 5:43–44
Julle het gehoor dat daar gesê is: “Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.” Maar Ek sê vir julle: “Julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.”
In 2006 was daar ’n aangrypende dokumentêre reeks oor ouers van Israeliese soldate en Palestynse jongmense wat in die konflik gesterf het. As die regering nie ’n oplossing vir die oorlog kan vind nie, beteken dit mos nie dat vrede onmoontlik is nie. Vanuit die liefde vir hulle eie kinders het hierdie ouers dus die grens oorgesteek om mekaar te ontmoet (Encounter Point) en ’n medemens eerder as ’n vyand gevind.
Stories oor hierdie selfde scenario kan ook gevind word in die destydse konflik tussen Christene in Ierland, toe Katolieke en Protestante mekaar vyande genoem het. Wie bepaal wie die vyand is? Word ons deur nasionalistiese ideale en geskiedkundige vooroordele om die bos gelei? Om my vyand lief te hê, is mos menslik onmoontlik. Om tyd te neem om, selfs in jou gebed vir jou kind, ook aan die vyand se kind te dink, is ingrypend.
Daardie oomblik getuig van die krag van God se genade en ’n diep geloof dat God groter is as die realiteit van die instansies wat die oorlog voer. Hierdie groot en ingrypende oomblik kan, ten spyte van die besluite van regerings en militêre mag, nou gebeur wanneer ons waag om op ons knieë te gaan en God toe te laat om hierdie hede uit sy perspektief te sien.
So ’n gebed se krag lê nie daarin dat ons God oortuig om daarna iets groots te doen nie, maar eerder dat God ons daardeur oortuig om, deur omgee, ’n grens oor te steek wat vandag in ’n wonder kan verander.
Gebed
Here, U sien my hart—U weet hoe moeilik dit is om te bid vir dié wat my seergemaak het. Vandag bring ek my vyande na U toe. Nie omdat ek sterk is nie, maar omdat U my leer om anders te leef.
Here, seën hulle. Waar daar pyn is, bring genesing. Waar daar haat is, bring lig. Waar daar verwarring is, bring waarheid.
Verander nie net húlle harte nie, Here—verander ook myne. Bewaar my daarvan om bitterheid vas te hou. Leer my om te vergewe soos U my vergewe het.
Gee my oë om hulle raak te sien soos U hulle sien—mense gemaak na U beeld, mense wat ook genade nodig het.
Here Jesus, U het selfs aan die kruis gebid vir dié wat U gekruisig het. Leer my om dieselfde pad te loop—nie die pad van wraak nie, maar die pad van liefde.
Amen.