Dagstuk | Donderdag 6 Augustus 2026

Dagstuk | Woensdag 5 Augustus 2026
Dagstuk | Vrydag 7 Augustus 2026

Omgee kos ons niks

Lees: Efesiërs 4:1–2

“Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd nederig, sagmoedig en geduldig, en verdra mekaar in liefde.”

Voordat ons iets gee, bereken ons gewoonlik eers die koste. Alles vra immers iets van ons – geld, tyd of energie. Ons dink maklik: Ek kan tog nie meer gee as wat ek het nie.

Dit is waar wanneer dit by geld of besittings kom. Maar dit geld nie vir die vrug van die Gees nie. Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing is gawes wat God elke dag deur sy Gees aan ons skenk (Galasiërs 5:22–23). Ons verdien dit nie en ons vervaardig dit ook nie self nie. Dit word uit genade aan ons gegee.

Daarom lê die bron van ware omgee nie in ons eie voorraad nie, maar in God se oorvloed. Hoe meer ons hierdie gawes met ander deel, hoe ryker word sowel hulle as ons self.

Tog sluit Paulus sy oproep met ‘n uitdaging af: “Verdra mekaar in liefde.” Hierdie woorde klink vir ons amper teenstrydig. Ons assosieer verdra maklik met op die tande byt, stilbly en uithou totdat dit verby is. Maar dit is nie wat Paulus bedoel nie.

Om iemand in liefde te verdra, beteken om God se liefde groter te ag as ons eie voorkeure, menings of teleurstellings. Dit is om te vertrou dat God ook in mense werk wat anders dink, anders leef of anders reageer as ons. Só word verdraagsaamheid nie ‘n swaar las nie, maar nog ‘n gawe van die Gees wat ons verniet ontvang en daarom ook vryelik kan uitdeel.

Miskien is dit juis vandag die duurste geskenk wat ons verniet kan gee.

Gebed

Here ons God, dankie dat U ons roep om met nederigheid, sagmoedigheid en geduld te leef en mekaar in liefde te verdra.

Vergewe ons wanneer ons eers bereken wat dit ons sal kos om vir ander om te gee. Dankie dat die vrug van u Gees nie uit ons eie vermoë voortkom nie, maar ‘n genadegawe uit u hand is.

Vul ons vandag met u liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Laat hierdie gawes spontaan uit ons lewens vloei, sodat ander iets van u goedheid kan ervaar.

Leer ons om mense met dieselfde geduld en genade te hanteer waarmee U ons elke dag dra. Mag ons lewe u liefde sigbaar maak.

Amen.