Ons is in Paastyd, op pad na Pinkster. Volgende week begin ons Pinksterreeks by Stellenberg Gemeente met die tema: Die Gees van Gasvryheid. As jy in die omgewing is, kom vier dit saam met ons! In hierdie week se dagstukke berei ons voor vir Pinkster en dink ons na oor die Gees van God.
Ons begin vandag by die begin, in Genesis 1:1-2:
“In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker oor die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.”
Met Pinkster vier ons die uitstorting van die Heilige Gees. Omdat die uitstorting van die Heilige Gees eers ná Jesus se dood, opstanding en hemelvaart plaasgevind het, sou ons kon dink dat die verhaal van die Heilige Gees eers by daardie Pinksterfees begin. Die teenoorgestelde is egter waar. Die Gees van God het nie ’n begin nie; eerder begin alles anders by die Gees van God. Die Gees van God is die begin van alles en maak alle lewe moontlik.
Paul Tillich, een van die invloedrykste teoloë van die twintigste eeu, het God beskryf as “the ground of all being”. God is nie ’n wese soos ons wesens is nie; God is die bron van alle wese — die grond waaruit alle lewe groei. Met ander woorde: God se Gees is die bron en fondasie van die hele skepping.
Word vandag bewus daarvan dat alles wat bestaan, God se Gees as bron van bestaan het — die Gees wat reeds van die begin van die skepping af lewe moontlik maak en onderhou.
Wat beteken dit vir jou dat jou wese God se Gees as bron het? En wanneer jy na ander kyk, of na die skepping rondom jou, hoe verander hierdie bewustheid die manier waarop jy die mense en wêreld om jou beleef?
Kom ons bid saam:
Gebed
Gees van God,
U wat van die begin af die bron van alle lewe is,
die grond waaruit ons groei —
dankie dat U my lewe moontlik maak en onderhou.
Help ons om al hoe meer te leef met die Gees van God as die bron van ons lewe.
Amen.