Dagstuk | Saterdag 24 Oktober 2026

Dagstuk | Vrydag 23 Oktober 2026
Dagstuk | Maandag 26 Oktober 2026

Die liefde bedek alles

Dagsê!

Die liefde, so sê Paulus in 1 Kor. 13:7, bedek alles. Dis nie so maklik om dadelik te snap wat hy hiermee bedoel nie. As jy jou Ou Testament ken, weet jy egter dat Paulus hier Spreuke 10:12 in gedagte het. Daar staan in die woorde van die 2020 Afrikaanse vertaling: „Haat verwek tweedrag, maar liefde bedek alle oortredings.”

Die Hebreeuse woord wat met bedek vertaal is, beteken om iets groters bo-oor iets kleiners te plaas, sodat die kleiner ding nie gesien kan word nie. Amper soos wanneer jy ‘n laken oor ‘n lyk trek. Dit is die teenoorgestelde van wat met Jesus gebeur het toe Hy aan die kruis hang. Al sy bedekking is weggeneem, Hy is ontbloot! Al die voorstellings van Jesus het ‘n doek oor sy lendene, maar die kruisigingspraktyk van daardie tyd laat min twyfel dat Hy geen bedekking gehad het nie, dat Hy poedelkaal was. Hy het dit vir ons gedoen omdat Hy nie net ons sonde nie, maar ook ons skande gedra het. Hy het ook betaal vir die dinge waaroor ons skaamkry. Dat Hy ons teen skaamkry wil beskerm, het selfs al voor sy kruisiging duidelik geword.

In Johannes 8:1-11 lees ons hoe die Fariseërs en die skrifgeleerdes ‘n vrou tydens die daad van owerspel betrap het. Dit het nie toevallig gebeur nie: daar sit fyn beplanning en ‘n lokval agter hierdie gebeure. Sy het sonde gedoen, maar die arme vrou was ook ‘n slagoffer. Dink aan haar verleentheid toe hulle haar saamsleep om haar sonde te gaan uitlap by Jesus. Hulle het nie haar sonde bedek nie, hulle het dit tentoongestel en haar verleentheid gebruik om Jesus in ‘n strik te vang. Die teks self verduidelik dit mooi.

Vir my is die wonderlikste van hierdie verhaal dat Jesus nié na haar kyk nie. Hy wil nie na hulle tentoonstelling van iemand se skaamte kyk nie, Hy wil nie deel van die toeskouers wees wat haar verleentheid nog groter maak nie. Daarom buk Hy af en skryf in die sand. As jy skryf, moet jy kyk na waar jy skryf. Jy staar nie iemand anders aan terwyl jy skryf nie. En toe Hy vir die Fariseërs en die skrifgeleerdes sê dat die een wat sonder sonde is die eerste klip op haar moet gooi, en hulle een vir een wegsluip, het Hy ook nie na húlle verleentheid gekyk nie. Hy het steeds op die grond bly skryf. Hy het eers opgekyk toe almal weg was. En toe het Hy vriendelik met haar gepraat al het Hy het nie gemaak of haar sonde nie saak maak nie. Maar nou net eers dit: Jesus het geen behae in die genot waarmee ons oor ander mense se skandes en verleenthede in die koerant lees of met ander deel nie. Hy het die verleentheid beleef om kaal uitgestal aan die kruis te hang weens die skandaligheid van ons sondes. Daarom mag ons geen ander mens “kaal aan die kruis” laat hang nie.

Gebed

Kom ons bid saam en gebruik die woorde wat Lied 334 ons leer:

„U is Liefde!” juig ons harte, en bedink wat liefde doen:
Dat U ons u Seun gestuur het om ons sonde te versoen.
U wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef –
nou kan ons, uit u gebore, uit die bron van liefde leef!
Deur u Gees, die wondergawe, laat U wederliefde spruit;
en die liefde – wat volmaak is – dryf die vrees en selfsug uit.
As U, o Vader, dan ‘n sondaar maak tot kind,
mag u Seun al meer gestalte in ons doen en late vind.