Dagstuk | Saterdag 10 Oktober 2026

Dagstuk | Vrydag 9 Oktober 2026

Spreuke 26:11 “Soos ’n hond wat na sy braaksel toe terugkom, so is die dwaas wat dieselfde dwaasheid weer begaan.”

Sommige van die Bybel se wysheid is so reguit dat ’n mens amper nie weet of jy moet lag of skaam voel nie! Spreuke gebruik hier ’n uiters onaangename beeld om ’n baie herkenbare menslike gewoonte uit te wys: ons doen soms weer presies dit waarvan ons reeds weet dit nie werk nie. Ons weet waarheen daardie gewoonte ons lei. Ons het al voorheen die gevolge daarvan beleef. Ons het selfs vir onsself gesê: “Nooit weer nie!” En tog, ’n paar weke of maande later, is ons terug.

Dit kan ’n slegte gewoonte wees, ’n destruktiewe verhouding, ons humeur, onverantwoordelike geldbesteding, uitstel, dieselfde argument of selfs dieselfde manier waarop ons oor onsself en ander dink. Hier kom ons weer terug by ’n tema van vroeër in die week. Die vraag is nie net: “Wat weet ek?” nie, maar eerder: “Wat doen ek met dit wat ek weet?”

Ons kan baie kennis hê en tog dieselfde foute bly herhaal. God se genade beteken nie dat Hy moeg word vir ons omdat ons weer geval het nie. Maar sy genade nooi ons ook om te leer, om te verander en om ’n ander pad te kies. Miskien is daar vandag iets in jou lewe waarvan jy diep binne-in weet: “Ek moet ophou om hierheen terug te kom.”

Dink vandag hieroor: Watter patroon in my lewe herhaal ek, al weet ek reeds waarheen dit lei?

Gebed

Here, gee my die wysheid om uit my foute te leer. Help my om nie telkens terug te keer na dieselfde dinge wat my van U en van die lewe wegtrek nie. Gee my die moed om ’n nuwe pad te kies en die genade om weer op te staan wanneer ek val. Amen.