Spreuke 30:8–9 “Praat jý vir dié wat self nie hulle sê mag sê nie, kom op vir die reg van dié wat ten gronde gaan; praat en lewer regverdige uitsprake, laat reg geskied aan die armes en ellendiges.”
Ek kom agter dat die sogenaamde “woke”-kultuur deesdae baie kerkmense ongemaklik maak. Die term word vandag dikwels gebruik vir mense wat sosiale onreg en diskriminasie uitwys en progressiewe standpunte inneem oor samelewingskwessies waar mensewaardigheid volgens hulle in gedrang kom. Dit kom veral sterk onder jonger mense na vore wat hulself binne die gebrokenheid van ’n samelewing bevind en vrae vra oor stelsels en onregte waarteen vorige generasies moontlik nie geprotesteer het nie. Maar aktivisme loop altyd die gevaar om self in dieselfde slaggat te trap as die mense en stelsels waarteen dit stry. Die vraag is daarom: Hoe maak ons met vanoggend se teks, waarvan die boodskap so sterk deur die Bybel weerklink?
In Lukas 4 lees Jesus in die sinagoge uit Jesaja 61. Hy beklemtoon dat die Gees van die Here Hom gestuur het om vrylating vir gevangenes uit te roep, herstel van sig vir blindes aan te kondig en onderdruktes in vryheid uit te stuur — om so die genadejaar van die Here aan te kondig. Aanvanklik knik almal instemmend en verwonder hulle oor Jesus se aangename woorde. Maar dan verander die atmosfeer. Dieselfde mense word woedend en wil Hom van ’n krans afgooi.
Ons bevind onsself dikwels soos daardie gelowiges in die sinagoge: tussen die aangename woorde van die Evangelie en die ongemak daarvan. Gelowiges oor alle generasies heen is immers veronderstel om elke dag “wakker” te leef — wakker vir God, wakker vir die nood van ander en wakker vir ons eie blindekolle. Hierdie roeping is nie veronderstel om ons bloot te frustreer nie. Dit is ’n uitnodiging om ons harte en lewens oop te stel vir God se Gees. Hoe praat die Here vandag met jou hieroor?
Gebed
Here, U het gekom as Verlosser om ons vry te maak. Maak ons ook wakker vir die mense en die onregte wat maklik buite ons blik val. Maar maak ons ook wakker vir die onreg van ons eie vooroordele en onverdraagsaamheid. Gee ons die nederigheid om te luister, die moed om te praat waar mense stilgemaak word en die wysheid om te onderskei wanneer ons eie woede ons begin verblind.
Here, ons sukkel om te verstaan dat geregtigheid nie net lê in die woorde wat ons spreek nie, maar juis in die manier waarop ons mense behandel, vergewe, dien en vir ander ruimte maak. Help ons om nie weg te draai wanneer u Evangelie ons ongemaklik maak nie. Ons wil met ’n wakker roeping hierdie dag ingaan — wakker vir U, wakker vir ander en wakker vir onsself. Amen.