In voorbereiding vir Pinkster gesels ons hierdie week oor die Gees van God. Vandag dink ons na oor Esegiël 36:26-27a.
Esegiël 36:26-27a
“Ek sal vir julle ’n nuwe hart gee, ’n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle ’n hart van vlees gee. My Gees sal Ek in julle binneste gee.”
Vir Esegiël is iets radikaals nodig om die hart en gees van mense weer in ritme met God se Gees te bring. Esegiël beleef dat mense so ver van God se hart en Gees af leef dat ’n nuwe skepping nodig is — dat God vir mense ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee.
Ons sien dan ook in die teks ’n belofte dat God se Gees ons nuut gaan maak. Dit is presies hoe Paulus die betekenis van die kruis en opstanding van Christus beskryf: as ’n nuwe skepping.
Hy skryf byvoorbeeld in 2 Korintiërs 5:17:
“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan — kyk, hulle het nuut geword.”
Gelowiges word dan ook genooi en opgeroep om volgens hierdie nuwe identiteit te leef. As jy ’n nuwe hart en ’n nuwe gees ontvang het, moet jy die ou hart en gees laat gaan. Jy word genooi om vanuit jou nuwe identiteit in Christus te leef, onder leiding van sy Gees.
Mag ons in hierdie Pinkstertyd wat voorlê beleef hoe God se Gees ons nuut maak. En mag God deur elkeen van ons sy koninkryk sigbaar maak en herstel in die wêreld bring.
Gebed
Here God, dankie dat U nie moed opgee met mense nie, selfs wanneer ons harte so hard soos klip word. Dankie vir die belofte van u Gees en dat ons in Christus nuut gemaak word om vir U te leef. Help ons om nie meer volgens ons ou, harde harte te leef nie, maar volgens u hart en u Gees.
Amen.