In voorbereiding vir Pinkster gesels ons hierdie week oor die Gees van God. Vandag dink ons na oor Psalm 51:12-13.
Psalm 51:12-13
“Skep ’n rein hart vir my, o God,
vernuwe ’n bestendige gees
in my binneste.
Moet my tog nie wegdryf
uit u teenwoordigheid nie;
en moet u heilige Gees
nie van my wegneem nie.”
Die psalmdigter erken dat sy gees vernuwing nodig het. Hoewel alles wat bestaan die Gees van God as bron van hul bestaan het, is daar in die Ou Testament ook ’n bewustheid dat ons gees uit ritme met God se Gees kan wees; dat die lewensasem wat God ons gee, misbruik kan word en dat mense die vermoë het om buite God se wil te leef. Saam met hierdie bewustheid is daar egter ook ’n hoop en verwagting dat God se Gees ons gees weer nuut kan maak.
Waar het jy vandag vernuwing nodig? Waar het jy hoop verloor, of waar voel jou gees terneergedruk?
Dalk kan ons vandag eenvoudig saam met die psalmdigter bid:
Gebed
Skep ’n rein hart vir my, o God,
vernuwe ’n bestendige gees
in my binneste.
Moet my tog nie wegdryf
uit u teenwoordigheid nie;
en moet u heilige Gees
nie van my wegneem nie.
Amen