Dagstuk | Saterdag 22 Augustus 2026

Dagstuk | Vrydag 21 Augustus 2026
Dagstuk | Maandag 24 Augustus 2026

Alle voëlsoorte word rein verklaar deur Jesus

Goeiemôre, Vriende. Dis Saterdag 22 Augustus. Ook in hierdie laaste dagstukkie van die week lees ons Bybeltekste oor wilde voëls in God se skepping.

Ons tema vandag is: Alle voëlsoorte word rein verklaar deur Jesus.

Tekslesing: Handelinge 10:9-15.

In die Ou Verbond was wilde voëls as rein of onrein geklassifiseer. Israeliete mag nie onrein voëls geëet het nie. Hulle mag hierdie voëls nie eers aangeraak het nie.

Levitikus 11:13-19 en Deuteronomium 14 se lys van onrein voëls was lank: arende, lammervangers, visarende, aasvoëls, valke, alle kraaisoorte, volstruise, seemeeue, alle roofvoëls, uile, visvangers, ibisse, flaminke, pelikane, swane, ooievaars, reiers, hoep-hoepe en vlermuise.

In 1 Konings 17 lees ons dat die Here die onrein kraaie beveel het om vir die honger Elia te sorg waar hy by Kritspruit weggekruip het. Is dit nie merkwaardig nie? Dalk was dit reeds ’n voorspel na die bedeling van die Nuwe Verbond, waar daar in Christus nie meer onderskeid gemaak word tussen rein en onrein voëls nie.

Petrus moes leer: onbesnede mense en mense sonder die wet van Moses is nie meer onrein mense nie. Gou-gou moes die kerk nog meer leer: kos wat aan afgode geoffer was, is nie meer onrein kos nie. Filippus moes in Samaria leer: ’n ontmande, gekastreerde mens is nie meer ’n onrein man nie.

Vriende, die boodskap is duidelik: in Christus Jesus mag niemand meer onderskei tussen rein en onrein voëls nie. Meer nog: niemand mag sekere soorte mense as onrein of minderwaardig beskou nie.

Alle wilde voëls en alle menssoorte is rein en aanvaarbaar vir Jesus, ongeag die samelewing of godsdienste se rein-en-onrein-klassifikasies.

Omarm alle soorte mense in jou hart, anders sal ons nooit die Evangelie na die hele wêreld kan neem nie.

Gebed

Here, U het soveel soorte diere en wilde voëls geskep. Ons verwonder ons daaroor en waardeer elkeen na sy aard.

Help ons om ook elke mens, ongeag ras, klas, seksualiteit, kultuur, taal, gebrek of onvermoë, waardig en met respek te behandel.

Dankie dat U ons voortdurend reinig van sondeskuld. Help ons ook om rein te lewe deur die liefde van Christus uit te leef.

Goed gaan, Vriende.