Dagstuk | Vrydag 24 April 2026

Dagstuk | Donderdag 23 April 2026
Dagstuk | Saterdag 25 April 2026

Goeiedag! Vandag is ons by die vyfde dagstukkie oor die wonderbare geluk waarvan Psalm 1 praat. Onthou, die ses dagstukkies is soos die brokkies van ’n legkaart, en die prentjie op die legkaartboks is ons Psalm. Daarom lees ek elke dag die Psalm sodat u kan sien waar daardie dag se brokkie moet inhaak by dié wat reeds op hulle plek lê.

Luister daarom nou mooi; dít is woorde van God.
[Lees Psalm 1]

Ons het gister ’n paar minute afgestaan aan die kaf, die leë, vrugtelose doppies — die sondaars wat net vir hulleself lewe. Hulle is ook die eensaamste mense. Hulle, sê vers 5, sal op die oordeelsdag nie kan waag om op te staan en hulleself te verdedig nie. Selfs as hulle in die kerk sit, is hulle nie regtig deel van die gemeente nie. Ook daar wil hulle gryp. Hulle kom om te ontvang en kla maklik dat hulle niks uit die preek gekry het nie. Hulle is nie soos die boom wat vrugte gee nie.

Daarteenoor staan die byeenkoms van die regverdiges. Hierdie byeenkoms is heeltemal anders as dié van die spotters wat in ’n kring gesit het toe ons in vers 1 by hulle verbygeloop het.

Dit is duidelik dat die Psalm hier vir ons wil sê dat die boom wat by waterstrome geplant is, deel van ’n plantasie is. Daar is mos baie bome met wortels wat tot in die diep, klam grond van God se Woord groei, en hulle het mooi blare en baie vrugte. Kyk maar elke Sondag by die kerk: ’n Mens wat haarself of homself in hierdie byeenkoms bevind, is gelukkig.

As so ’n mens soms swaar kry, is daar ander om hom of haar te beskerm. Die bome van ’n plantasie waai nie sommer om as die sterk winde kom nie. Die Bybel praat nooit bloot individualisties oor ons as gelowiges nie. Hy leer ons ook om te bid — so het die Here Jesus ons geleer: “Ons Vader wat in die hemel is, gee ons vandag ons daaglikse brood; vergeef ons ons skulde.”

Wees daarom bly dat jy aan die gemeente behoort, omdat jy gewortel is in die Woord van God. Dit is ’n groter geluk as wat baie mense in die wêreld ooit sal ervaar. Amen.

Here, vorm tog ons denke deur u Woord, sodat ons die ware geluk kan hê en met insig vrugbaar kan lewe.