Vandag is Vrydag 7 Maart en en hierdie week is ons op reis na komende Sondag as die eerste Sondag van Lydenstyd waar ons Sondag na Sondag en week na week een van die sewe kerse oppad na Paasnaweek dood blaas.
Vandag se teks is Markus 8:34-37 Nadat Hy die skare saam met sy dissipels nader geroep het, het Hy vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red. Wat baat dit ‘n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Wat sou ‘n mens gee as losprys vir sy lewe?
Jesus se getrouheid het Sy lewe gekos. Hy weet dat die tipe Koninkryk waarna Hy ons uitnooi is ‘n onderstebo koninkryk wat soms moeilik gaan wees om uit te leef. Dissipelskap het ‘n koste. Wat beteken dit vir jou om jou kruis op te neem?
Thomas sê vir Jesus in Johannes 14:5-7: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken?” Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reedsgesien.”
Jesus wys ons hoe en wie God is. Jesus wys ons hoe ’n verhouding met die Vader lyk. Jesus gee Sy lewe en wys ons hoe om te lewe. Wat het Jesus reeds vir jou gewys van wie Hy is? Wat beteken dit vir jou om ‘’die Weg’’ te volg? Hoe sou Jesus jou volgelingskap tans beskryf? Wie loop hierdie pad saam met jou?
Gebed: Here, help my om hierdie lewenspad van dissipelskap saam met U te stap. Amen.