Dagstuk | Donderdag 18 Junie 2026

Dagstuk | Woensdag 17 Junie 2026
Dagstuk | Vrydag 19 Junie 2026

 

Goeiedag.

Ek het gister u aandag gevestig op die kru klanke van haat en vyandskap wat onverwags in hierdie gebed oor God se volkome kennis van ons, voorkom. In vers 22 vertel Dawid vir die Here van sy intense haat vir sy vyande. ‘n Mens sou kon vra, hoekom? Hoekom doen hy dit? Dit is mos onnodig? Het hy nie hoeka in sy gebed bely dat God weet wat hy gaan sê voordat die woord in sy mond begin vorm aanneem nie?

Ek het nou net gesê dat hy bely het dat God weet wat hy gaan sê, voordat die woorde nog op sy tong vorm aanneem. Kom ons dink gou oor die woordjie bely. Daar is twee betekenisse wat by ons opgeroep kan word as ons die woordjie hoor. Die een betekenis is, om openlik uit te kom vir ‘n geloofsoortuiging. Daarom kan ons praat van ‘n geloofsbelydenis. Hierdie gebed van Dawid is so ‘n geloofsbelydenis.

Die ander betekenis wat dikwels in ons gesprekke voorkom, is dat ‘n mens vrywillig, berouvol, beteuterd, bedruk erken dat jy iets gedoen, gesê of gedink het wat nie reg is nie; iets waaroor jy skaam en skuldig is. ‘n Mens bely jou geloof met oortuiging, en jou sondes met verleentheid.

Daarom, as Dawid sê, U ken my van voor my geboorte af deur-en-deur, is dit ‘n aanbiddende geloofsbelydenis. As hy sê, ek haat my vyande met ‘n intense haat, is dit ‘n biddende skuldbelydenis, al sê hy nie daarby: “Ek is jammer daaroor”, of “vergewe my” of so iets nie. Maar, maar wanneer ons môre die volgende vers, vers 23, lees sal ons sien hoe ontstellend hy hierdie haatgedagtes vind.

Dan word dit vir ons duidelik dat hierdie skuldbelydenis juis nie ‘n vals noot is nie. Dit is die stemvurk wat ons help om hierdie hele Psalm op die regte wysie te sing. Maar, daaroor praat ons môre.

Vandag boei ‘n ander gedagte ons eers. ‘n gedagte wat nie ongesiens by ons moet verbyglip nie. Dus, let op: Geloofsbelydenis sowel as skuldbelydenis is saam die salf wat die seerplek van eensaamheid laat genees. En, albei, geloofsbelydenis en skuldbelydenis, moet met ons mond gedoen word, met ander woorde, hardop! Ja, u het reg gehoor, hardop! Lees maar Romeine 10:8-10.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, Gód het nie nodig dat ons dit hardop sê nie, Hy weet immers wat ons dink vóór ons dit sê, onssélf het dit egter nodig. Dít het ek meermale in my lewe ondervind. Toe die Pakistanse Veiligheidspolisie my bv in ‘n uitsiglose amper donker eensame kamertjie opgesluit het, het ek wonderbare vreugde en vrede gevind deur Sondag 1 van die Kategismus hardop te bely. (As u dalk nie die woorde van hierdie Sondagafdeling kan herroep nie, luister gerus na my en Marius se potgooi-reeks op Stellenberg se webwerf. In Sessie 3 gesels ons oor hierdie troosvolle woorde.)

Om hardop met God te praat bring nie vir God nader nie, dit help ons egter met ons gevoelens van diepe eensaamheid want dit herinner ons dat God nie net alwetend binne ons is nie, maar as volmaak begrypende Vader ook langs ons is. Hoe skuldbelydenis ‘n salf vir ons eensaamheid is, daaroor dink ons môre saam

Kom ons bid nou saam:

Slotgebed elke dag:

Heiland, laat my nooit vergeet

dat U alles van my weet,

al is niemand ook by my,

sal U, Here, by my bly.

(Lied 543:3)