Dagstuk | Vrydag 21 Maart 2025

Dagstuk | Donderdag 20 Maart 2025
Dagstuk | Saterdag 22 Maart 2025

Dien in liefde

Teks. Galasiërs 5:13 – “Julle broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde”.

Hoe is dit dat die gelowiges se vryspraak van sonde ons net weer by die plek kan uitbring om hierdie vryheid te misbruik om sonde te doen? ‘n Mens verwag die teenoorgestelde. Ons het moontlik in ons teksgedeelte met twee partye gelowiges te doen. Die een groep wat nougeset volgens die Wet van Moses geleef het, het ‘n kardinale fout begaan: Hulle het nie in liefde en diensbaar na medegelowiges toe uitgereik wat volgens hulle beoordeling nie aan die vereistes van die Wet voldoen het nie. ‘n Ander moontlikheid is dat gelowiges se vryspraak van sonde hulle onverskillig laat lewe het. Hulle het ‘n gemaklike en sorgelose bestaan gevolg in afsondering van ander gelowiges se nood wat hulle nie geraak het nie. Wat ook al die situasie in die teks mag wees, blyk dit dat gelowiges nagelaat het om diensbaar na mekaar om te sien. Lydenstyd lei ons nie net tot persoonlike groei nie, maar tot ‘n basiese en praktiese diensbaarheid. Oor watter vaardighede, gawes en vermoëns beskik jy wat jy sonder koste kan deel?

Gebed

Here, dankie vir u liefde en genade wat ons elke dag omvou. U het ons geroep om ligdraers te wees, om mekaar met liefde en nederigheid te dien. Here, help ons om ons harte oop te maak vir die nood van ander, om met sagte woorde en helpende hande U teenwoordigheid te weerspieël. Gee ons die wysheid om te sien waar ons kan help, die moed om op te tree, en die geduld om met deernis te luister. Laat ons dade van diens ‘n getuienis wees van u liefde, sodat ons mekaar kan optel, bemoedig en versterk.  Seën ons hande dat hulle werk tot eer van u Naam, en seën ons woorde dat hulle hoop bring aan dié wat swaarkry. Mag ons nooit moeg word om goed te doen nie, maar altyd met blymoedigheid en opregtheid ander dien, soos U ons gedien het. Amen.