Dagstuk | Vrydag 28 Junie 2024

Dagstuk | Donderdag 27 Junie 2024
Dagstuk | Saterdag 29 Junie 2024

 

Psalm 71:9. Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie, moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het.

Ouderdom bring ons onvermydelik by groot en nuwe uitdagings in die lewe uit wat ons nie in ons jongdae voorsien het nie. Ouderdom ontneem ons stelselmatig van ons eie vermoëns waarop ons vir jare staat gemaak het. Saam met hierdie verlies van krag en beheer kom daar skielik die realiteit van onbenullige vrese en onsekerhede. Dit is beslis nie vir ons maklik om van ander afhanklik te leef nie. Dit alles lei ons maklik tot die gedagte dat my lewe in ouderdom van minder waarde is. Dit is besonders wanneer ouderdom jou by die plek uitbring om soos Paulus te besef dat God se krag juis tot volle werking in my kom wanneer ek swak is. Die waarde en seën van jou lewe word nie deur jou vermoëns bepaal nie, maar lê in dié besondere verbintenis (verbond) wat God met jou gesluit het. Dink op jou oudag terug aan die genade wat jy ontvang het toe jy as baba gedoop is. Toe reeds het God homself aan jou verbind om jou nooit te verlaat nie. En nou jare later – in die besef dat jy ouer raak en jou kragte minder is die besef van hierdie genade net soveel groter.

Gebed

Here, ek word oud. Nie stokoud nie, maar beslis ouer. En ek moet erken, Here, dat die dinge van die gees al is wat nie deur die ouderdom aangetas word nie. Dit is asof my gees al meer aangeraak word deur u Gees. En dit bevry my langsamerhand van die drif en drang van ambisie, van die vlietende plesier van status en besittings, en selfs van die fisieke vernederinge van oudword. Here my God, reis asseblief saam met my van ’n verganklike liggaam na ’n onverganklike lewe.

Amen.