Op dag 5 het ons vanaf Arzua tot Padrouzo wat so 22 km is. Op die Camino is die gebruik om ‘n klippie langs die pad op te tel en saam met jou te dra. Die klippie simboliseer iets waaraan jy swaar dra, of iets waaraan jy vasklou en nie wil los nie. Deur die loop van die dag begin die klippie in jou hand jou irrieteer. Want in jou een hand het jy jou stapstok en in die ander hand hou jy jou foon waarmee jy wil fotos neem. Nou moet jy nog die klip ook vashou. Deur die dag besoek jy gereeld die rede waarom jy die klippie vashou. Wat is dit waaraan jy so swaar dra? Wat is dit wat vir jou so ‘n emosionele las is. Dan op ‘n plek wanneer jy gereed is, sit jy die klippie neer as simbool dat jy jou swaar las neerlê en dit oorgee. Soos iemand gesê het jy haal jou swaar emosionele rugsak af. Tyd alleen help jou om hierdie swaar emosionele las te verwerk en dit vir die Here te gee.
Ek dink nie dis nodig om ‘n Camino-pelgrimstog af te lê om jou laste neer te lê nie, maar dalk moet ons doen wat die Hebreër skrywer vir ons sê. Hebreërs 12:1-2: 1Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.
GEBED: Here, ek dra tans swaar aan hierdie las. Ek kom lê dit neer by U voete.
Amen