Dagstuk | Woensdag 13 Mei 2026

Dagstuk | Dinsdag 12 Mei 2026
Dagstuk | Donderdag 14 Mei 2026

In voorbereiding vir Pinkster gesels ons hierdie week oor die Gees van God. Vandag dink ons na oor Eksodus 31:2-3.

Eksodus 31:2-3
“Kyk, Ek het Besaleël, seun van Uri, seun van Gur, van die stam van Juda, by die naam geroep. Ek het hom met die Gees van God vervul — met wysheid, insig en kennis, en met al die nodige vakmanskap …”

Hoewel God se Gees die bron van alle lewe is, lees ons op verskeie plekke van mense op wie die Gees van God op ’n besonderse manier rus.

Besaleël is die eerste persoon van wie ons lees dat hy met die Gees van God vervul word. Hy word toegerus om die tabernakel te bou. Dikwels, wanneer ons dink aan vervulling met die Heilige Gees of aan die Gees van God, dink ons aan stories van wonderwerke. Wanneer ons dan dalk nie self wonderwerke kan verrig nie, dink ons dat ons nie met die Gees vervul is nie. Besaleël word egter met die Gees vervul “met wysheid, insig en kennis, en met al die nodige vakmanskap” om hom in staat te stel om die tabernakel te bou soos God dit aan Moses oorgedra het.

Het jy al ooit daaraan gedink dat die Gees van God jou toerus om jou werk te doen? Dat die Gees van God nie net gevind word in gebeure wat ons nie kan verduidelik nie, maar dalk juis in ons gewone werksaamhede?

Dalk nooi die teks ons uit om te vra: Watter werk het God vir my in gedagte in sy koninkryk? Waarmee rus God se Gees my toe om my werk te kan doen?

Of dalk moet jy raaksien dat jy deur God se Gees toegerus word om die werk te doen wat jy doen. Dan word die vraag: Hoe moet ek my werk inrig om seker te maak dat die werk wat ek doen, eer aan God bring?

Mag jy vandag bewus word van hoe God se Gees jou toerus om sy werk te doen as deel van sy koninkryk.

Gebed
Here, rus ons deur u Gees toe om die werk te doen wat U vir ons in gedagte het. Help ons om u koninkryk sigbaar te maak in die manier waarop ons werk.

Amen