Goeiedag! Vandag is ons by die derde dagstukkie oor die wonderbare geluk waarvan Psalm 1 praat. Die ses dagstukkies is soos die brokkies van ’n legkaart, en die prentjie op die legkaartboks is ons Psalm. Daarom lees ek elke dag die Psalm, sodat u kan sien waar ons brokkie moet inhaak by die vorige.
Luister nou mooi: dít is woorde van God.
[Lees Psalm 1]
Hierdie is ’n wysheidspsalm, en die Heilige Gees is die wysheidsleraar wat hier aan die woord kom. Let wel: die Heilige Gees het nie die Psalm gedikteer nie, maar die skrywer van die Psalm geïnspireer.
Ek verstaan inspirasie só: dat ’n skrywer bewus word van die Here God se teenwoordigheid en grootheid; dat sy geestesoog uiteindelik die onsienlike waarneem en dat hy dan self na die woorde soek om dit te beskryf. Dis hoe ons Bybel tot stand gekom het.
Maar die Gees maak nie net die skrywer se oë oop vir God nie; Hy maak ook sy oë oop om in die alledaagse verskynsels simbole en tekens raak te sien wat ons help om God se teenwoordigheid beter te begryp.
So vertel die skrywer van Genesis 2 vir ons dat daar in die tuin van Eden mooi bome met lekker vrugte was. En in die middel van die tuin was die boom van die lewe. Openbaring vertel vir ons van die boom van die lewe in die middel van die Nuwe Jerusalem.
Dus: daar is ’n boom van die lewe aan die begin van die Bybel, en ’n boom van die lewe aan die einde van die Bybel. En hier, in die middel van die Bybel, is ’n lewende mens wat soos ’n boom by watervore geplant is. Hierdie gelukkige mens, wie se wortels in die vrugbare, klam grond van God se woord water drink, verdor nie en dra vrug.
Kom ons leef só!
Here, vorm tog ons denke deur u Woord, dat ons die ware geluk kan hê en met insig vrugbaar kan lewe. Amen.