https://youtu.be/szXKDdKVyEw
Goeiedag! Vandag is ons by die vierde dagstukkie oor die wonderbare geluk waarvan Psalm 1 praat. Onthou, die ses dagstukkies is soos die brokkies van ’n legkaart, en die prentjie op die legkaartboks is ons Psalm. Daarom lees ek elke dag die Psalm, sodat u kan sien waar daardie dag se brokkie moet inhaak by dié wat reeds op hulle plek lê.
Luister nou mooi, dít is woorde van God.
[Lees Psalm 1]
Vandag gaan ons nie kaf praat nie, maar ons gaan wel oor die kaf praat. In dagstukkie twee, dit was Dinsdag s’n, het ek net so vlugtig na die kaf verwys wat maklik wegwaai, teenoor die boom wat sterk winde kan trotseer. Dit is een van die voordele van boom wees in plaas van kaf. Die mens wat soos ’n boom is, is gelukkig. En ’n mooi boom wat vrug dra, maak ook ander mense gelukkig. Die wat in die Here se woorde gewortel is, is nie grypers nie; hulle is gewers. Vers 3 sê dat die boom sy vrugte op sy tyd gee.
As jy egter ’n gryper is wat op eie belang ingestel is, ’n selfsugtige, selfgesentreerde mens, dan is jy ’n leë doppie. Dit is tog wat kaf is! Koring wat geoes is, is op die dorsvloer gegooi. ’n Bees of donkie is oor die koring al in die rondte gelei, totdat al die vrugbare, eetbare korreltjies uit hulle doppies getrap is. Daarna is dit geskep en in die lug opgegooi. Die leë doppies waai weg, en die bruikbare korrels val aarde toe.
Die nuwe 2020-Bybelvertaling het die Hebreeuse woordjie wat sê wat met die kaf gebeur, vertaal met “wegwaai”. Die 1983-vertaling het dit vertaal met “uitmekaar waai”. Wegwaai is sekerlik die beste vertaling. (Die 2021-Nederlandse Bybel het “verwaai” – ek hou nogal daarvan.) Maar of jy nou met “wegwaai” vertaal of nie, daar sit tog ’n betekenis van uitmekaar — nie net weg nie — in die teks. Net hierna, en dit is ons teks vir môre, praat vers 5 van die vergadering van die regverdiges. Maar mense wat ingestel is op mag, eie eer, status of geld, sukkel om in ’n hegte gemeenskap met ander te leef. As die winde van die lewe teen hulle aanwaai, spat hulle maklik uitmekaar.
Terloops, moenie dink dat die grypers nie ook gawe mense kan wees nie, of dat hulle nie meestal suksesvol is nie. Hulle is, en mense bewonder hulle. Maar as God na hulle kyk, sien Hy net ’n nuttelose, leë dop. Wees liewer soos ons Psalm se boom!
Here, vorm tog ons denke deur u Woord, sodat ons die ware geluk kan hê en met insig vrugbaar kan leef.