Dag 3 en ons stap van Palas de Rei tot Melide wat so 14 km in afstand is. Wat vir my baie interessant van die stap was, was die verskillende paaie waarop jy stap. Soms grond, dan teer, dan gruis, dan klippies en ook plaveisel. Elkeen bring ‘n verskillende ervaring, of belewenis. Ons weet al te goed dat die pad van die lewe nie vooruit geplavei is nie en dat die lewe vreemde kronkels en draaie kan maak. Deur die lewe loop ons ook op verskillende paaie. Natuurlik kan ons ook deur ons keuses bepaal op watter sort paaie ons gaan loop. Soos iemand eenmaal gesê het: My keuses word my pad en my pad bepaal uiteindelik my bestemming. Daarom is die keuses wat ons maak so belangrik, of soos Erwin McMannes dit stel: Making choices is the most spiritual thing you can do.
Die Bybel gebruik die pragtige beeld van ’n reis, of wedloop om ons lewe aan ons te verduidelik. Soos jy op hierdie pad vorder tref jy soms kronkels en draaie asook opdraandes en struikelblokke wat die pad versper. Jy loop op verskillende soorte paaie. Ander kere tref ’n mens gelyk paaie aan en afdraandes wat makliker is om te loop (of hardloop!). Hierdie lewensreis of -wedloop verg inspanning en moeite, en het een groot doel voor oë: die wenpaal waar die oorwinnaarskroon aan ons oorhandig word. Ek weet nie watter pad jy vandag loop nie. Ek weet nie of jou pad opdraend of afdraend gaan nie, maar ek wil jou uitnooi om vas te hou aan die woorde van Psalm 119:105: U woord is ‘n lamp vir my voete en ‘n lig op my pad.
GEBED:
Here, ek reis op ‘n onbekende pad. Reis asb saam my Amen