Dagstuk | Woensdag 6 November 2024

Dagstuk | Dinsdag 5 November 2024
Dagstuk | Donderdag 7 November 2024

In hierdie week reis ons saam met tekste uit die verhaal van Jona, wat ons nooi om te vernuwe deur bewus te word van die werking van ons eie harte.

Jona 3:4

Jona het die stad ingegaan en ‘n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”

Refleksie

Toe Jona uiteindelik in Nineve aankom, stap hy ’n ent in die stad in en lewer die kortste preek in die geskiedenis. In Hebreeus is dit net vyf woorde. Jona los in sy boodskap doelbewus ’n klomp dinge uit wat gewoonlik deel is van ’n profeet se boodskap. Daar is byvoorbeeld geen verduideliking van wat Nineve se sondes is of enige opdrag wat hulle oproep tot bekering nie. Net die woorde: Nog net veertig dae en Nineve word verwoes. Dit is asof Jona die absolute minimum doen om sy werk te doen en vir die mense van Nineve nie eers ’n kans wil gee om te verander nie. Jona doen uiteindelik wat die Here van hom gevra het en bring ’n boodskap aan Nineve, maar Jona doen so min as moontlik. In Hebreeus beteken die woord wat hier as ‘verwoes’ vertaal word, eintlik, omgekeer, of selfs transformeer. Op ’n vreemde manier word Jona se woorde waar en die hele stad word omgekeer of getransformeer as gevolg van sy kort boodskap.

Daar is ’n groot kontras tussen die minimale optrede van Jona en die oordrewe reaksie van die stad, waar die koning homself verneder en waar die hele stad, selfs die vee, niks mag eet nie en mens en dier rouklere moet aantrek. Waar Jona sy bes doen om eintlik ongehoorsaam te wees en die minimum te doen, is dit die ongelowige vyand Nineve, wat gehoorsaamheid aan God bewys.

As hierdie deel van die verhaal vir ons ’n spieël ophou vir vandag, nooi dit ons om te vra of ons, wat aan die binnekant van die kerk is, nie soms alles doen wat ons kan om slegs die minimum te doen wat God van ons vra nie? En dit nooi ons om na buite te kyk en te vra of daar nie soms mense aan die buitekant is, wat dalk nie welkom in die kerk is nie, wat soms meer getrou is aan die Here as die mense binne die kerk?

Dit herinner ons ook dat die Here, selfs ons beste pogings om mense uit te sluit met ons boodskappe van vernietiging, kan gebruik om mense se harte te verander.

Gebed

Here, maak ons vandag bewus van ons verhouding met U. Is ek gemik daarop om net die absolute minimum te doen? Of is ek, soos wat Jesus van ons vra, besig om altyd die ekstra myl te stap en U met oorgawe te dien? Help my om raak te sien wanneer my hart soos Jona se hart verhard teenoor mense wat ek nie dink welkom is nie en mag U ook verlossing bring aan hulle, ten spyte van die hardheid van my hart.

Amen