Hebreërs 3:7 Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: Vandag as julle sy stem hoor moet julle nie hardkoppig wees nie soos julle voorvaders toe hulle teen my in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het.
Hardkoppigheid is iets wat oor ons elkeen se pad kom. Ten spyte daarvan dat ons kennis dra van ‘n ander manier van doen hou ons steeks vas aan ons eie wil en die reg daarvan. Die Hebreër-teks verwys na ‘n situasie waar gelowiges in die verwagting geleef het van ‘n beloofde land terwyl hulle deur die woestyn getrek het. Die afstand tussen Egipte en Kanaan (beloofde land) was net oor die 600 km – tog het die reis hulle 40 jaar geneem. Dit is hoe lank dit soms vat om deur hardkoppigheid te breek! ‘n Mens hoor soms iemand sê: “Die peroon is net so hardkoppig soos sy pa of ma”. Dit is presies waaroor die teks praat. ‘n Nuwe generasie wat nie oor die verlede kan terugkyk en daaruit kan leer nie en bloot soos hulle voorouers voortgaan. Wanneer ons ‘n jaar afskop skuif ons die fokus weg van die verlede na die toekoms. Miskien het ons juis nodig om nou tyd te neem om oor die verlede na te dink en bewus te raak hoe die Heilige Gees ons lei om uit die foute van die verlede te leer en met gewoontes te breek wat ons in die nuwe jaar indra.
Gebed
Here, wanneer ek vandag in gebed opsien na U, maak dit alles soos ‘n spieël vir my, waarin ek kan kyk en besef dat ek moet verander. Dankie dat U vandag deur die hardkoppigheid kyk wat my lewensritme oorheers en my van binne kan verander. Suiwer my hoogmoed, my arrogansie en my gebrek aan insig oor myself. Dankie dat U deur my hardheid breek om ‘n sagtheid en deernis te voorskyn te bring. Amen.