Ons tema vir hierdie week se dagoordenkings is “Ou wysheid vir stadsmense”. Ons gaan elke dag stilstaan by ’n paar gesegdes uit die boek Spreuke en vra hoe hierdie eeue-oue wysheid ons vandag kan help om in ’n moderne wêreld te leef.
Spreuke 11:4: “Rykdom baat nie wanneer die Here straf nie; om te lewe volgens sy wil, red van die dood.”
Die farao’s van Egipte het hulle goed voorberei vir die dag van hulle dood. Hulle het geglo dat hulle grafte die voortsetting van hulle rykdom en status in die hiernamaals sou wees. Daarom is grafkelders reeds lank voor hulle dood gebou, groot genoeg om alles wat hulle gedurende hulle lewe bymekaargemaak het, saam met hulle na die hiernamaals te neem.
Ons is vandag steeds gefassineer deur hierdie grafte en die skatte wat daarin gevind word en kyk graag na dokumentêre programme daaroor. Maar dikwels mis ons die ironie: die waarde van die besittings en die sukses waaraan ons ’n leeftyd gewerk het, kom tot ’n einde met ons dood.
Die inkomste wat ons verdien en die pensioen waarmee ons eendag moet klaarkom, het ’n groot invloed op die manier waarop ons ons lewe inrig. Dit bepaal waar ons kan woon, watter voertuig ons kan ry, waarheen ons met vakansie kan gaan en waar ons kan uiteet. Geld speel ook ’n groot rol wanneer die lewe vir ons skeefloop en ons deur ons finansiële vermoë sekere probleme probeer oplos of onsself uit moeilike situasies probeer loskoop. Spreuke kom draai egter ons perspektief op die waarde van geld en besittings op sy kop.
Die bekende woorde uit Koos du Plessis se gebed kom by my op:
Laat my nooit die grond verlaat nie.
Laat my in U skadu bly.
Gee dat elke aardse vreugde en vrees
eindelik nietig word vir my.
Elke dag is ’n gedagte,
elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem,
net ’n skadu teen die muur.
Wat ek is, is net genade.
Wat ek het, is net geleen.
Eintlik smag ek na U waters van rus.
Lei my, Heer, vanaand daarheen.
Om na die wil van God te vra, lei ons dikwels op ander paaie as die blote wins waarna ons soek. Dit help ons om die waarde van ons aardse lewe in die regte perspektief te plaas. Die verrassing is egter dat hierdie proses, wat dikwels met pyn en worsteling gepaardgaan, ons uiteindelik kan bevry van spanning, druk en vrees.
Here, ons bely dat ons maklik ons waarde meet aan wat ons besit, verdien en bereik. Herinner ons vandag daaraan dat alles wat ons het, geleen is en dat ons lewe self ’n gawe van genade is.
Wanneer geld, sukses en die toekoms vir ons ’n bron van spanning en vrees word, leer ons om weer na U wil te vra. Maak ons vry van die behoefte om ons lewe met besittings te probeer beveilig. Leer ons om ons veiligheid nie te vind in wat ons het nie, maar in U.
Laat elke aardse vreugde en vrees uiteindelik sy regte plek vind, sodat ons met oop hande kan leef: met dankbaarheid kan ontvang en met vertroue kan loslaat. Wat ons is, is net genade. Wat ons het, is net geleen. Lei ons, Here, na U waters van rus.
Amen.